Eskom wys weer tande oor uitstaande geld

Soos in ’n derderangse sepie waar dieselfde storielyn oor-en-oor herhaal word, moes inwoners van Modimolle, Mookgophong en Vaalwater vandeesweek wéér hoor dat Eskom kennis gee dat die dorpe se kragtoevoer afgesny gaan word weens wanbetaling.

Die aan-af-aan-af-kennisgewings word al sedert Mei verlede jaar aan die munisipaliteit, wat gereeld nie betalings kon bybring nie, gestuur. Telkens kon beurtkrag afgeweer word deur óf betalings te maak, óf soos in die mees onlangse geval in Maart, met regsaksie deur burgerorganisasies.

Die munisipaliteit se skuld aan Eskom beloop volgens Marlene van Staden, burgemeester, meer as R250 miljoen.

’n Afskrif van Eskom se brief aan die munisipaliteit het op sosiale media die ronde gedoen en inwoners het ontsteld reageer. Die brief lui: “Na aanleiding van die feit dat ons geen betaling of reaksie op ons navrae oor die betaling ontvang het nie, gaan Eskom voort daarmee om ’n openbare kennisgewing voor te berei.” Volgens die kennisgewing sal die publiek 30 dae lank kans hê om voorleggings aan Eskom te maak, waarna ’n finale kennisgewing uitgereik sal word. Volgens die brief sal die kragreus die krag in die eerste week van 06:00 tot 09:00 en van 17:00 tot 20:30 afskakel en oor naweke van 08:30 tot 12:00 en van 15:00 tot 19:00. Gedurende die tweede week sal die krag elke dag vir 14 uur af wees — van 06:00 tot 20:00.

Inwoners het ontsteld gereageer en die DA, wat aan die stuur van die munisipaliteit is, het onder fel kritiek deurgeloop. Mense wou weet waarom hulle dan voorafbetaalde kragmeters laat installeer het en waar die betalings wat hulle reeds vir hul krag gemaak het, heen is.

Michiel Laubscher, ’n voormalige DA-raadslid, het op ’n diensleweringsgroep gesê die enigste opsie is om die munisipaliteit onder verpligte sakeredding te laat plaas. Hy het verwys na ’n artikel in die Financial Mail wat in April verskyn het oor die Harrismith Business Forum wat Eskom en verskeie regeringsorganisasies hof toe sleep oor wie verantwoordelik is om in te gryp met stygende munisipale skuld.

“In die parlement het die DA se Kevin Mileham uitlatings gemaak oor munisipale skuld, maar as dit kom by munisipaliteite waar hulle polities in beheer is, druk hulle oë toe. Die vraag behoort gevra te word hoekom die DA nie die daad by die woord wil voeg in Modimolle nie,” het hy op ’n diensleweringsforum gevra.

Johann Abrie, ’n DA-raadslid, het toegegee dat die situasie nie meer gered kan word nie en ingryping van nasionale vlak af nodig is.

Hy het aan Die Pos gesê dat die konstante onsekerheid oor die kragtoevoer frustrerend is as ’n mens in die sake-omgewing is. “Hoekom is die party nie groot genoeg om te erken dat hulle nie die probleem kan oplos nie?” wou hy weet.

Ná ’n hofaansoek deur die Waterberg-sakekamer, Kokanje-aftreeoord en Waltkon-slaghuis het Eskom in Maart geskik. Daar is onderneem dat beurtkrag nie ingestel sal word nie tensy die munisipaliteit weer agterstallig raak. Beurtkrag sal dan volg ná die proses wat die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Paja) bepaal, gevolg is.

Volgens Gerhardt Breytenbach, prokureur in Modimolle, is die sakekamer weer in gesprek met hul regspan wat die vorige aansoek ingedien het. Hy het gesê die sakekamer kyk na ’n permanente oplossing en gaan waarskynlik hul ledevergadeing, wat op Donderdag 17 Mei plaasvind, vir almal oopstel.

Van Staden het gesê dat sy die kwessie, tesame met DA-LP Lindy Wilson, die nuwe politieke hoof vir Modimolle-Mookgophong in die plek van Desiree van der Walt, op Woensdag 9 Mei, met James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, sal bespreek.

Die munisipaliteit is egter nie alleen in dié skuldbootjie se onstuimige see nie. Die minister van finansies, Nhlanhla Nene, het vandeesweek in antwoord op vrae in die parlement gesê dat meer as 40%, oftewel 112 munisipaliteite, nie hul uitgawes kan betaal nie. Die meeste van dié munisipaliteite is in Limpopo en sluit onder meer Modimolle-Mookgophong, Polokwane, Groblersdal, Marble Hall, Ba-Phalaborwa, Makhado, Thabazimbi en Lephalale in.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
FPA warns municipality to create firebreaks