Boerdery nie erg geraak deur koue

Waterbergers het behoorlik gebibber en gebeef weens ’n kouefront wat vandeesweek met ysige vingers oor die gebied gestreel het en inwoners naarstiglik na hul warmkomberse en verwarmers laat gryp het.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens was dié ysige koue weens ’n koue front wat deur die land beweeg het en sneeu in verskeie dele van die land tot gevolg gehad het. Sommige roetes in die Oos-Kaap is selfs gesluit ná swaar sneeu-neerslae op Vrydagaand, 8 Junie.
In die Waterberg het die kwik self ook in sommige dorpe tot onder vriespunt gedaal. Op Bela-Bela het temperature heel week gewissel tussen 0-22°C en op Mookgophong tussen 1-20°C.
Op Vaalwater moes inwoners hulle serpe styf om hul nekke draai met temperature wat gewissel het tussen -3-21°C en op Modimolle was dit nie veel warmer met temperature wat gewissel het tussen -1-20°C.
Hoewel die snerpende koue die meeste Waterbergers tot raserny gedryf het, het dit die boerdery nie te erg geaffekteer nie. Verskeie boere in die Waterberg-omgewing het aan Die Pos bevestig dat die kouefront hulle nie te erg geraak het nie.
“Koue doen gewoonlik skade aan gewasse as dit vroeër of later as die normale tyd van die jaar plaasvind. Die meeste boere het dus nie skade gelei nie omdat Junie gewoonlik ’n koue maand is,” het mnr. Lardus Erasmus, voorsitter van die Springbokvlakte Boerevereniging, aan Die Pos gesê.
Volgens Erasmus is die koue nie altyd die plesierigste weer nie en kan dit nogal onaangenaam raak as daar vroeg in die oggend of laat in die aand werk op die plaas gedoen moet word.
“Dan is daar ook altyd mense en diere wat nie oor die noodsaaklike beskutting teen die koue beskik of gereed was daarvoor nie,” het hy gesê.
Mnr. Chris Wagner, ’n bekende boer van die Waterberg, meen swartryp is tabakboere se grootste gevaar. “Swartryp is wanneer die temperatuur tot 0°C en onder daal gepaardgaande met sterk wind.
“Die wind trek die hitte uit die blare en dan daal die aanvoelbare temperatuur met tot -10°C en brand die plante dood,” het hy verduidelik. Daar is sover nog nie verneem van enige swartryp-gevalle in die Waterberg-omgewing nie.
Daar is egter wel kommer in landbougeledere weens die gevaar van wegholveldbrande as gevolg van baie droë gras. “Die gras is erg droog.
Moontlike veldbrande wat kan uitbreek as gevolg hiervan is ’n rede tot kommer,” het mnr. Jaco Bogaards, DLU voorsitter van die Waterberg, aan Die Pos gesê.
Boere in die omgewing word tot versigtigheid gemaan en aangemoedig om die nodige brandbane aan te bring.
Tans is die algemene Waterberg-weervooruitsig dat dit steeds bitter koud vroegoggend gaan bly, en beter deur die dag sal raak as die son nie agter ’n wolkmassa wegkruip nie.
Waterbergers word aangeraai om maar eerder nie die dik sokkies, serpe, musse en handskoene te vinnig weg te pak nie.

  AUTHOR
Connie Labuschagne

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Fond memories of AB’s golfing