Modimolle eersdaags op die kassie

Dit het ’n paar inwoners op Modimolle so ’n rukkie geneem om agter te kom dat daar ongewone dinge op die dorp aan die gang was, maar teen Dinsdagoggend, 13 Augustus, was die meeste darem behoorlik wakker toe die span van Mooiloop!, ’n reisprogram wat op Woensdagaande op SABC2 uitgesaai word, met hul kameras die dorp ingevaar het om ’n episode vir die program te verfilm.
Die Pos het die voorreg gehad om by te staan terwyl Valiant Swart, bekende sanger/liedjieskrywer/akteur, en een van die twee aanbieders van die program, die Kwiltersklub op die dorp se dames by die Marie Bergsmasaal voor die kameras laat inskuif het om hul lieflike handewerk van nader te bewonder.
Eugene Botha, een van die direkteure van die televisieproduksiemaatskappy, Blue Marble Entertainment, Swart en sy mede-aanbieder, Denvor Phokaners, asook die res van die kameraspan se vriendelikheid en plat-op-die-aarde persoonlikhede was verrassend en aangenaam.
“Ons het gisteraand by een van julle plaaslike gastehuise oornag. Ek dink nie ek was al ooit op Modimolle nie, maar die mense hier is só vriendelik,” het Swart tydens ’n geselssessie ná die verfilming gesê.
“Die program het ons al na soveel pragtige plekke geneem. Dit is ’n ongelooflike ervaring,” het hy bygevoeg.
Daarna het Swart en Die Pos se joernalis geklets oor allerhande interessante disse, van afval, skaapkop en “maagvelle” tot mopaniewurms (wat volgens hom, “eintlik geen smaak het nie”), voordat Botha die manne bymekaargeroep het om verder te gaan.
Deur die dag is hulle op verskeie ander plekke op die dorp gewaar en opgewonde inwoners kon nie wag om te vertel wie ons in ons midde het nie.
Daar is nog nie ’n spesifieke datum wanneer die episode op die kassie sal verskyn nie. Volgens Botha hang dit af van hoe vinnig die redigering gedoen kan word, maar angstiges kan blykbaar oor sowat drie tot vyf weke van nou begin uitkyk daarvoor.
Die Pos sal lesers op hoogte hou.

  AUTHOR
Denise van Bergen

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Modimolle-Mookgophong mayor speaks out