Vleisbraai om dankie te sê

Grondeienaars wat skade gelei het in die veldbrand in September in die Mookgophong-gebied, het op Saterdag, 28 September, ’n heerlike vleisbraai aangebied om die gemeenskap te bedank vir hul onbaatsugtige hulp tydens die brand.
Die Pos het in September berig dat ongeveer 40 000 hektaar afgebrand het, waaronder ’n groot gedeelte van die Nylsvley-natuurreservaat wat ook in die slag gebly het.
Ongeveer 120 mense het die geselligheid bygewoon. Die koste daarvan is deur die plaaseienaars self gedra en is deur Ruben Rautenbach, ’n sakeman van Mookgophong, gekoördineer.
“Dit was ’n riem onder die hart om te sien hoe die gemeenskap mekaar dra in tye van nood,” het een van die plaaseienaars aan Die Pos gesê. “Dit is ons manier om dankie te sê.”
Volgens Rautenbach is daar baie grondeienaars wat plaasbestuurders het, en nie gereeld op hul plase kom nie. Dié geselligheid was ’n gulde geleentheid vir hulle om die mense van die omgewing beter te leer ken en selfs hul bure te ontmoet.
’n Roerende skyfievertoning is aangebied met foto’s van al die aspekte van die brand sodat almal betrokke, soos onder meer die families van die brandvegters, die intensiteit van die operasie kon beleef.

  AUTHOR
Marietjie Steenkamp
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Eienaar geskok ná gesteelde hond se ore afgesny is