Voertuig bars amper deur bank se ruit

’n Bejaarde vrou van Modimolle het ’n noue ontkoming gehad toe sy op Donderdagoggend, 9 Januarie, byna met haar Toyota Auris binne-in Absa op dié dorp gery het.
Haar sandaal het glo aan die petrolpedaal vasgehaak en sy het magteloosheid en teen ’n hoë spoed vorentoe geskiet en beheer oor die voertuig verloor.
André Burger, hoof van die motorwagte op die dorp, was by toe die ongeluk gebeur het. Hy het aan Die Pos vertel dat die vrou voor Absa geparkeer het. Toe sy wou ry, het hy vir haar gewys om te wag vir ’n bakkie wat besig was om uit te ry. Die volgende oomblik is sy met haar voertuig oor die randsteen.
Burger sê hy sou waarskynlik getref gewees het as dit nie vir Erika Coetzee, ’n mede-motorwag, was wat ook daar gestaan het en hom betyds gewaarsku het nie.
“Ek het aan die oorkant van die pad gestaan,” het Coetzee gesê.
“André was by die vrou se kar, maar besig om vir die bakkie te kyk wat uitgery het. Ewe skielik het die vrou se kar vorentoe geskiet en ek het gesien dat sy nie gaan stop nie. Dis toe dat ek vir André geskree het om te pasop. Dit was so amper of sy was bo-oor hom.”
Die Auris is oor die randsteen en tussen ’n boom en die nou stukkie sypaadjie voor die parkeerarea deur —  wat byna onmoontlik lyk wanneer ’n mens na die spasie kyk. Drie voertuie wat langs haar geparkeer was, het in die slag gebly met stampe en skrape van voor, voordat die Auris heeltemal op die sypaadjie beland het en, met groot genade, nét voor die bank se glasvensters tot ’n stilstand gekom het –— sonder om enige voetgangers te tref.
Behalwe vir geweldige groot skrik, het die vrou gelukkig geen ernstige beserings opgedoen nie.

  AUTHOR
Denise van Bergen

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Settlers se VLU-vroue leer meer by kenner oor listeriose