Nylies verwelkom nuwe hoof

Hoërskool Nylstroom het uiteindelik weer amptelik ’n nuwe skoolhoof.
Etienne Burger kom al die pad van Tzaneen se wêreld, waar hy vir die afgelope ses jaar by Hoërskool Ben Vorster skoolgehou en as waarnemende adjunkhoof gedien het.
Hy volg Johann Calitz op, wat verlede jaar die Bosveld vir ’n hoofpos in die stad verruil het.
Burger het sy onderwysloopbaan in 1989 by Afrikaans Hoër Seunsskool in Pretoria as biologie-onderwyser begin en was daar tot in 2000. Daarna het hy die privaatsektor vir ’n paar jaar uitgetoets, maar in 2004 is hy terug skool toe en het by Hoërskool Merensky skoolgehou tot in 2008. Van daar het hy oorgeskuif na Ben Vorster.
Burger is die afgelope 25 jaar gelukkig getroud met, Annelize. Hulle het twee kinders — ’n seun Gian (24) en dogter Esli (20), en is die trotse oupa en ouma van een kleinkind.
Hy vertel dat die skuif van Tzaneen na Modimolle baie vinnig moes gebeur en dat sy vrou hopelik ook binnekort by hom sal aansluit.
Burger het sy pos amptelik op Vrydag, 1 Augustus, by Hoërskool Nylstroom ingeneem en het sy visie vir dié skool met Die Pos gedeel.
Hy sê hy sal graag wil sien dat die skool gelukkige en gebalanseerde kinders bou wat hul plek eendag suksesvol in die samelewing sal kan volstaan, en daarvoor gebruik die skool akademie, sport en kultuur om vir hulle die nodige lewenslesse- en vaardighede te leer.
Hy sê dat die skool steeds baie sterk gerig sal wees op ’n geestelike fondasie waar gedrag, dissipline en wedersydse respek vir mekaar ’n uiters belangrike rol speel.
“Hoërskool Nylstroom is ’n skool van uitnemendheid. Ons wil graag elke leerder optimaal ontwikkel om by sy of haar volle potensiaal uit te kom,” het hy gesê.
Burger sê dat hy reeds hartlik verwelkom is en betuig sy dank aan almal vir die vriendelikheid waarmee hy in die gemeenskap en by die skool ontvang is.

  AUTHOR
Denise van Bergen

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Mafede revives mural activities