Musiek-ikoon se seun volg in sy spore

Die sanger John Edmond se fluweelstem het mense in die 1970’s reg oor die wêreld bekoor.
Sy treffer, Toytrain, was veral baie gewild. Dié oud-Zimbabwiër en sy vrou, Teresa, woon al jare op Leeupoort buite Bela-Bela, en nou het die musiekgogga ook hul seun, John Ross Edmond, gebyt.
John Ross het aan Die Pos gesê sy pa het ’n Engelse CD, wat oor die Anglo Boereoorlog handel, saamgestel, maar daar was ’n behoefte om dit in Afrikaans uit te bring.
“Ek was baie gretig om deel te word van die projek en is baie trots met die eindresultaat,” het John Ross gesê.
Dié CD, “Die Boereoorlog in Lied,” word tans by die Voortrekkermonument in Pretoria, die Kasteel in Kaapstad, die Bloemfontein Boere-oorlogmuseum, Smutshuis in Irene, die Talana-museum op Dundee in KwaZulu-Natal, die Lalapanzi Soutpansberg-oorlogsterrein en in die Krugerwildtuin verkoop. Plaaslik is dit beskikbaar by Peet se Padstal, net buite Bela-Bela op die Thabazimbi-pad.
John Ross was tien toe hy en sy ouers na Leeupoort verhuis het. Hy was in Laerskool Leeupoort en later in Hoërskool Warmbad. In sy matriekjaar was hy ’n uitruilstudent in Oregon, Amerika.
Hy en sy vrou, Nadia, en dogter, Talia, woon tans op Lichtenburg in Noordwes, waar hy as vlieënier werk. Hy was onder meer in Afghanistan, Irak en Pakistan betrokke by ’n maatskappy wat Hercules C130-vliegtuie vervaardig en vlieg.
Sy pa het hom baie aangemoedig om die musiekbedryf te betree, maar ma Teresa en vroulief Nadia is ook groot ondersteuners, het hy gesê.
John Ross en sy pa werk gereeld aan nuwe materiaal en het onlangs die vertaalde weergawe van die album, “Stories en liedjies van die Wildtuin vol. 3”, opgeneem. Hulle beoog om aanstaande jaar nóg ’n musiekprojek aan te pak.
“Die musiekbedryf is beslis ’n reuse-uitdaging en baie meer mededingend as 30 jaar gelede. Kompetisies soos Idols en die internet gee ’n platform vir jong musikante om gehoor te word,” het hy gesê.
Sy groot liefde is countrymusiek en die meeste van sy liedjies is in Afrikaans.
Hulle het heelwat navorsing oor die Anglo- Boereoorlog gedoen as agtergrond vir die liedjies op die jongste album. “Omdat dié geskiedenis nie meer regtig in skole deel van die kurrikulums is nie, glo ek dat musiek ’n wonderlike medium is om die feite, emosies en stories uit te beeld,” het John Ross gesê.
Daar word ook van tipiese instrumente uit die Boereoorlog-era gebruik om die musiek te maak, soos ’n konsertina, banjo en trekklavier.
“Geskiedenis het die manier om te herhaal. Dit moet as voorbeeld vir die toekoms dien, en mense help om uit ander se foute te leer,” het John Ross gesê.

  • John Edmond het meer as 26 CD’s vrygestel en was een van die min kunstenaars in die land wat sewe agtereenvolgende treffers op die destydse treffersparade gehad het. Hy het onder meer in Engeland en Tokio opgetree. 
  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Nóg ’n bekende baken op Bela-Bela deur onverklaarbare brand verwoes