Slakkepas dalk nou motorryers se voorland

Motoriste sal moet leer hoe om geduld agter die stuurwiel te beoefen indien die regering se nuwe verkeerswetsontwerp aanvaar word.

Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het in die staatskoerant bekend gemaak dat die nasionale verkeerswet aangepas sal word en spoedgrense sal onder meer verlaag word. 

Die Pos het die wetsontwerp onder oë gehad.

Spoedgrense in stedelike gebiede is van 60 km/h na 40 km/h aangepas. Paaie buite dorpe en townships se spoedgrens sal vanaf 100 km/h na 80 km/h verlaag word en snelweë se spoedgrense word van 120 km/h na 100 km/h verlaag, bepaal die wetsontwerp.

Nooddienste, soos die brandweer, ambulans en polisie sal van hierdie regulasies vrygestel word indien hulle vir ’n noodgeval uitgeroep word of hul take moet uitvoer. 

Boetes kan opgelê word aan enige motorryer wat die spoedgrens oorskry.

Wanneer mense hul rybewyse gaan hernu, sal hulle voortaan ook weer geëvalueer word. Die aansoeker moet dan persoonlik deur ’n verkeersbeampte getoets word om te bepaal of die persoon steeds die padreëls ken en of die persoon wel die spesifieke voertuig kan bestuur. Geen amptelike skryftoets sal egter afgelê word nie.

Bakkie-bestuurders sal verbied word om skoolkinders agterop hul voertuie op openbare paaie te vervoer en nie meer as vyf werkers sal op ’n slag opgelaai mag word nie.

Afleweringsvoertuie met ’n vrag swaarder as 9 000 kg sal in spitstye verbied word om op paaie in stedelike gebiede te ry. Die wetsontwerp dui aan dat sulke voertuie nie op weeksdae tussen 06:00 en 09:00 asook tussen 17:00 en 20:00 in stedelike gebiede mag ry nie. Dié reël geld nie vir naweke en openbare vakansiedae nie.

Isaac Monare, hoof van die verkeerafdeling op Bela-Bela, het by navraag gesê indien hierdie nuwe stel reëls aanvaar word, word dit dan ’n wet waaraan almal moet voldoen. “Bela-Bela se mense word by die dag meer, dus is die beskikbaarheid van mannekrag om dié nuwe regulasies uit te voer, ’n probleem waarna ons sal moet kyk. Ons het reeds onderhoude met vier mense gevoer wat binnekort met hul opleiding sal begin. Sodra hulle kwalifiseer, sal hulle saam met die ander beamptes help om die nuwe wet toe te pas.”

Die wetsontwerp is steeds oop vir kommentaar en moet nog deur die parlement goedgekeur word.

  • Die nuwe verkeerskantore in Van der Merwestraat op Bela-Bela se deure is al geruime tyd oop vir die gemeenskap, maar die verfwerk op die toetsgronde waar die praktiese lisensietoets afgelê word, ontbreek nog.

    Monare sê daar is tans ongeveer 60 aansoekers wat hul rybewystoets op Bela-Bela wil aflê. Totdat die nuwe toetsgronde egter voltooi is, sal hulle nog by die ou toetsgronde in die industriële gebied op die dorp getoets word.

 

  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Pienaarsrivier’s Bathopele Secondary School receives books