Terug skool toe met die Doppers

Die Gereformeerde Kerk op Vaalwater het op Saterdag, 5 September, ’n baie prettige terug skool toe-geselligheid vir gemeentelede aangebied. 

“Daar is vooraf heelwat reëls aan die gemeentelede deurgegee, onder meer dat die skool beginselvas is en geen balhorige kinders toegelaat sal word nie,” het Adriana le Roux, organiseerder, laggend vertel. Die “leerders” is gewaarsku dat hulle deursoek sou word vir vuurwapens en dat enige vorm van boeliegedrag op kamera vasgelê sou word en daarna op YouTube versprei sou word.

Gemeentelede is gevra om ou skoolklere of enige ander drag wat by skoolkinders pas, aan te trek. Die manne het ’n rugbyspan gevorm en ’n haka opgevoer wat skreeusnaaks was. Die vroue het van hulle kant af weer probeer om ’n trompoppie-groep na te boots.

“Ai, ek het ’n groot probleem. Dit is my verjaarsdag en ek gaan ongelukkig met gewone klere moet kom,” het Isabel de Villiers, ’n oud-gemeentelid, vooraf vir die bestuur laat weet.

Daar is hamburgers gebraai om by die tema te pas, roomys is vir nagereg bedien en die snoepie het die res van die verversings voorsien. Ruben le Roux en Megan Eales het gedigte voorgedra. Die Dopper-skoolhoof het ook ’n baie vermaaklike noodhulpklas aangebied. 

“Die funksie was baie lekker en almal wat daar was, het dit baie geniet. Ons sal vir seker weer aanstaande jaar so ’n geselligheid reël,” het Le Roux gesê.

Ds. Albert Berg het almal bedank wat die dag moontlik gemaak het.

 

  AUTHOR
Marlene Vermaak

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Soup and blankets for the needy