Dankie vir ondersteuning

Desirée van der Walt, DA Parlementslid, skryf:

Graag wil ek my dank aan elke inwoner betuig vir die afgelope jaar se deelname aan aktiwiteite wat elkeen van ons se dienslewering geraak het.

Veral dankie aan elkeen wat die petisie teen die samesmelting van Modimolle en Mookgophong onderteken het. ’n Spesiale dankie aan elkeen wat vrywillig vorms by huise en vergaderings laat teken het. Aan die media wat ons veldtog se vordering gepubliseer het, baie dankie.

Hoewel ons die eerste ronde verloor het, gaan ons voort met die regsaksie en sal al die hulpmiddels tot ons beskikking gebruik om te verseker dat elkeen gehalte diens-lewering ontvang, ook van die “nuwe” munisipaliteit.

Vaalwater is veral in algehele verval en ek dank elkeen wat ons gemeenskapsvergadering bygewoon het.

Oor al die vrae, mosies en ledeverklarings wat ek in die parlement gelewer het, en in die toekoms sal indien, sal ek terugvoering verskaf deur die media en pamflette.

Verskeie skadu-ministers van die DA het saam met my oorsigbesoeke op Bela-Bela, Modimolle, Mookgophong, Vaalwater, Thabazimbi en Lephalale gedoen. Al die diensleweringskwessie en korrupsiebevindinge word tans deur verskeie komitees van die parlement en die Limpopo-wetgewer hanteer.

Sonder ’n ondersteunende gemeenskap is my taak om te dien, nie moontlik nie.

Baie dankie vir u ondersteuning en vir die voorreg om tot u diens te kan wees.

’n Geseënde Kersseisoen aan u en u gesinne.

  AUTHOR
Ons lesers skryf...

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Doen iets om dorp te verbeter