Duisende rande se dwelms gevind

Lede van die Bulgerivier-polisie (tussen Vaalwater en Lephalale) het vandeesweek beslag gelê op duisende rande se dwelms en kontant. 

Lede van die Groblersbrug-grenspolisie het inligting opgevolg oor ’n verdagte voertuig wat Suid-Afrika op Maandag, 23 Mei, met onwettige dwelmmiddels sou binnekom.

Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder in Limpopo, het aan Die Pos gesê alle polisiestasies in die omgewing was op die uitkyk vir die voertuig. Lede van die polisie op Bulgerivier het die voertuig raakgesien, van die pad getrek en deursoek.

Aanvanklik kon hulle niks verdags opmerk nie. Lede van die Groblersbrug-grenspolisie, onder leiding van ao. Hennie van Staden, het kort daarna op die toneel aangekom. Die grenspolisie spits hulle daarop toe om in- en uitvoere tussen Suid-Afrika en Botswana te moniteer en maak dit hulle werk om verdagte voertuie en mense te identifiseer en te ondersoek. “Smokkelary tussen Suid-Afrika en Botswana is ons spesialisgebied en ons weet waarvoor om uit te kyk indien ons ’n verdagte voertuig deursoek,” het Van Staden gesê.

Nadat die voertuig deeglik deursoek is, is R139 900, $10 000 en heroïen met ’n geraamde straatwaarde van R93 miljoen in 1 kg verpakkings gevind.

Die polisie het versteekte panele in die deure, agter die sitplekke en in die bak van die Nissan NP 200-bakkie gevind. 

“Die bestuurder van die voertuig is ’n 33-jarige man van Tanzanië. Hy is in hegtenis geneem en het op Dinsdag, 24 Mei, in die Lephalale-landroshof verskyn op aanklagte van die besit, smokkel en handel in dwelms,” het Otto gesê.

Die saak is deur Limpopo se eenheid vir georganiseerde misdaad oorgeneem wat die ondersoek verder sal hanteer.

Volgens iemand na aan die ondersoek, wat versoek het om anoniem te bly, was die verdagte “deur-gaans kalm, rustig en glad nie aggressief nie. Dit het nie gelyk asof hy ooit kwaad of ontsteld word terwyl die voertuig behoorlik uitmekaar gehaal word nie”. 

Die man het reeds vlugtig in die hof verskyn. Borgtog is nie toegestaan nie en sy saak is tot Dinsdag, 31 Mei, uitgestel. 

  AUTHOR
Marlene Vermaak

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Bejaarde met mes gesteek by vakansieoord naby Bela-Bela