Wildboer moordsaak moontlik binne maand afgehandel

Die moordsaak van Piet Venter, die wildboer van Rooiberg wat in November 2015 op sy plaas, Chaheng Hunting Safari’s, beroof en glo doodgewurg is, sal na alle waarskynlikheid binne die volgende maand afgehandel word.

Die beskuldigdes, Ruben Miles, JP Johannesse, Johan du Toit, Christopher Joubert, Mona Oosthuizen en Louisa Ricco, is kort ná die voorval in hegtenis geneem en aangekla vir moord en huisbraak met die opset om te roof.

Joubert, Oosthuizen en Ricco het in Februarie borg gekry nadat hulle Kersfees laasjaar in die tronk deurgebring het.

Dit het tydens hul onlangse verskyning in die Bela-Bela-streekhof aan die lig gekom dat die beskuldigdes voorlopig apart op twee hofdatums sal verskyn. Die saak is intussen na die Modimolle-streekhof oorgeplaas.

Miles en Johannesse sou op Maandag, 3 Oktober, op die klagtes gepleit het, maar daar is besluit om die saak na Maandag, 24 Oktober, uit te stel sodat daar oor die vonnis onderhandel kan word, het Gerrit Pienaar, staatsaanklaer, by navraag gesê. 

Die ander beskuldigdes se volgende verskyning vind op Vrydag, 21 Oktober, op Modimolle plaas, maar Pienaar het gesê dat dit waarskynlik uitgestel sal word sodat al die beskuldigdes op Maandag, 24 Oktober, saam kan verskyn. 

Miles en Johannesse is steeds in aanhouding.

  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Twee verdagtes vas ná brande buite Bela-Bela