Reik uit na ander

Kobus Crous, Bela-Bela, skryf:

Huis Talje op Bela-Bela verrig ’n besondere diens in die gemeenskap. 

Daar word 46 erg-gestremde kinders versorg wat geen ander heenkome het nie en voltydse versorging nodig het. Hierdie inrigting is 100% afhanklik van die goedgesindheid en bydraes van die gemeenskap vir hul oorlewing. 

Daar word wel ’n subsidie van die staat ontvang, wat nie eens genoeg is om in hierdie kinders se basiese behoeftes te voorsien nie. In die proses op soek na donateurs, het ek verneem dat sommige mense voel dat dit nie help om donasies te gee nie aangesien dit volgens hulle geld is wat in ’n bodemlose put gegooi word omdat hierdie kinders nooit in staat sal wees om ’n bydrae tot die gemeenskap te lewer nie. In dié verband kan ek nie help om aan die Bybelvers Matt. 25:45 te dink waar die Here Jesus sê: “Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie”.

Nie net versorg hulle hierdie 46 kinders na die beste van hulle vermoë nie, maar hulle is tans besig om uit te reik in die gemeenskap om ouers wat met sulke kinders in hulle huishoudings worstel, by te staan en aan hulle die vaardighede te leer om hierdie kinders te hanteer.

Ek het ’n mooi verhaal wat ek van hierdie inrigting kan vertel. Ek het verlede jaar ’n jong man van 21 jaar wat verstandelik erg gestremd is vir ’n terapeutiese proses by my geriewe by die Emmarentia Geldenhuys-terrein geakkommodeer. In sy terapieproses het hierdie jong man aangebied om ander te help wat een of ander nood beleef. Ek het aan Huis Talje gedink. Die personeel daar het ons met ope arms ontvang en hom as “vrywilliger” gekeur. Hy het eers een maal per week gegaan en met die kinders gaan speel. Later het hy daagliks gegaan. 

Die uitwerking hiervan in sy lewe was dramaties. Dit het sy terapieproses dramaties laat vorder sodat hy in ’n kort tydjie daarna kon terugkeer na sy eie huis. Ongeveer twee weke gelede het sy ma aan my bevestig dat hy goed aangepas het in die versorgingsoord waar hy nou gehuisves word, waar dit vroeër weens sy eie problematiek nie moontlik was nie. 

Hierdie verhaal bevestig maar net weer vir my hierdie waarheid, dat as ons uitreik na die “geringstes”, ons dikwels baie meer terug ontvang as wat ons gegee het.

  AUTHOR
Ons lesers skryf...

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Doen iets om dorp te verbeter