Oudinwoner skitter op televisieprogram

’n Kunstige oudinwoner van Modimolle, Erika Turvey, hou dié dorp se naam hoog op kykNET se Kunsvlyt-program waar kuns-inspirasie hoogty vier. 

Die program word van 7 April tot 30 Junie uitgesaai. 

Turvey het vyf jaar gelede vanaf Modimolle saam met haar man, Marthinus Swart, Frankfort toe verhuis. Daar het sy ’n florerende galery en bistro waar haar lewensgrootte skilderye teen die mure pryk.

Turvey en nege ander deelnemers is uit honderde aansoeke gekies om deel te neem aan dié program. Die tien kunstiges word uitgedaag om elke dag ’n ander kunsprojek aan te pak en hul kreatiwiteit tot die uiterste te beproef. 

“Dit was die grootste uitdaging van my lewe. Ons het geen telefone by ons gehad nie en al die deelnemers het saam in ’n huis gebly,” het sy vertel. 

Sy het voor die kompetisie inderhaas geleer om te sweis. “Ek het in dié tyd nuwe waardering vir ’n gomgeweer (glue gun) gekry — ’n mens kan enigiets daarmee vasplak,” het sy gesê.

Die program se eerste episode is op Vrydag, 7 April, uitgesaai. Inwoners kan Turvey se vordering elke Vrydagaand om 18:00 op kykNET, kanaal 144, dophou. 

Die wenner staan ’n kans om, as deel van verskeie ander pryse, ’n oorsese reis na die Faber-Castell-akademie in Duitsland te wen. Dit sluit ’n twee dag lange besoek aan die Faber-Castell-akademie, ’n besoek aan die Faber-Castell-potloodfabriek in Stein en ’n toer van die geskiedkundige stad Nuremberg in. 

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Modimolle se lugruim vol ystervoëls