TLU Suid-Afrika vier 120ste bestaansjaar

Die Vaalwater Distrik Landbou-unie het op Saterdag, 10 Junie, die Transvaalse Landbou-unie Suid-Afrika (TLU SA) se 120ste bestaansjaar by Rivieroord op Vaalwater saam met grondeienaars van die omgewing gevier.

Danksy borgskappe en die ondersteuning van die Vroue Landbou-unie kon gaste heerlike pannekoek en braaivleis geniet.

Louis Meintjies, president van TLU SA, was die hoofspreker. Hy het vertel dat TLU SA op 29 September 1897 gestig is. TLU SA verteenwoordig grondeienaars sedert 1897 met die groot uitdagings wat landbou betref, het hy gesê.

Meintjies het vertel hoe die Anglo-Boe-reoorlog in 1899 uitgebreek het en landbou deur Engeland se verskroeide aarde-beleid vernietig is.

Duisende vroue en kinders het in die konsentrasiekampe gesterf en alle vee is van kant gemaak.

Volgens Meintjies het TLU SA die oorlog saam met die boere oorleef en met die deelname van TLU het die departement van landbou, landbouproefplase, besproeiingskemas en die stigting van die Transvaalse Veetelers Vereniging ontstaan.

Die Landbank is in 1905 gestig om finansiële bystand aan boere te verskaf en om voedselsekuriteit in die land te bewerkstellig.

“Landbou is een van die grootste werkgewers en dien as ’n groot ekonomiese inspuiting vir die meeste klein plattelandse dorpies. TLU SA is trots om steeds deel van die opheffing van boere in ons land te wees,” het Meintjies gesê.

  AUTHOR
Zani Hiepner

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
DA waarsku oor grondonteiening