Polisie verwelkom lang vonnis van Bela-Bela verkragter

Die streekhof op Modimolle het ’n verkragter van Bela-Bela op Donderdag, 25 Mei, swaar gestraf.

Edward “Nono” Mojela Papo (28) is ná byna tien maande in aanhouding deur die hof skuldig bevind aan verkragting.

Volgens ao. Johannes Shitlhane, hoof van die Bela-Bela-polisie se eenheid vir geweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, is Papo 25 jaar tronkstraf opgelê nadat hy ’n vrou (25) in Augustus verlede jaar in die Donoza-uitbreiding van die Bela-Bela-township verkrag het.

Papo is ook ’n bykomende drie jaar tronkstraf weens aanranding opgelê. Hy het in dieselfde maand van die verkragting ook ’n 19-jarige vrou aangerand en die hof het hom hieraan skuldig bevind, het Shitlhane gesê.

Shitlhane het gesê Bela-Bela-inwoners kan nou rustiger slaap danksy goeie polisiewerk.

  AUTHOR
Andries van der Heyde

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Polisie keer talle aan wat glo onwettig in land is