Huishoudelike geweld wek kommer by SAPD

Huishoudelike geweld en verkragting is aan die toeneem in die Bela-Bela-omgewing, grootliks weens mense se dalende morele waardes en dwelmafhanklikheid.

Dít is tydens ’n inligtingsessie gesê wat op Donderdag, 8 Junie, by die Warmbad-hospitaal deur die Bela-Bela-polisie aangebied is. Gemeenskapslede en hospitaalpersoneel het die sessie bygewoon waartydens ao. Johannes Shitlhane, hoof van die Bela-Bela-polisie se eenheid vir geweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, kol. Lindie Marx, stasiebevelvoerder, en Josephina Mafelatshuma, streeksbevelvoerder, die mense toegespreek het.

Mafelatshuma het gesê die verkragting van minderjariges bly ’n hartseer saak, maar dat die probleem werklik soms by die ouers lê.

“Talle ouers in die omgewing weet die meeste van die tyd nie eens waar hul kinders is nie en stel hul kinders bloot aan gevaarlike situasies. Kinders bly deesdae laat saans uit, word by tavernes opgemerk en raak selfs aan dwelms verslaaf,” het Mafelatshuma gesê.

Marx het gesê ouers moet grense stel sodat hul kinders dissipline kan aanleer.

Sy het beklemtoon dat dit onwettig is om kinders te slaan of aan te rand.

Shitlhane het gesê die publiek het die reg om huishoudelike geweld aan die polisie te rapporteer. Die polisie of ’n maatskaplike werker kan dan die perseel besoek om te bepaal of alles in orde is.

Indien ’n beampte sy pligte in hierdie verband versuim en iemand weens die geweld sterf, kan ’n siviele eis teen die polisie ingestel word.

Huishoudelike geweld sluit onder meer kinderverwaarlosing, die blootstelling aan dwelms, seksuele aanraking, verkragting, emosionele, verbale en fisieke geweld in.

“Indien daar bevind word dat ’n kind mishandel of verkrag is, moet alle fokus eers op die kind se verklaring geplaas word, want dit kan gebeur dat kinders hul stories verander omdat hulle die detail vergeet,” het Marx gesê.

“Vroue is ook geneig om te was nadat hulle verkrag is, maar ongelukkig moet daar eerstens ’n verkragtingstoets by die hospitaal gedoen word om bewyse teen die verdagte te kry.”

Daar kan by die hof aansoek gedoen word om beskermingsbevele en die polisie kan slagoffers na-uurs hiermee help.

Om slagoffers in ’n veilige plek te plaas kan die proses na genesing aanhelp, maar dit neem tyd en daar is min plekke van veiligheid of rehabilitasiesentrums in die provinsie wat slagoffers werklik help. Die enigste amptelike plek van veiligheid in die omgewing, is die Bela-Bela-polisiestasie, het Marx gesê.

“Daar was al gevalle waar mense en veral vroue meineed gepleeg het deur aan die polisie te sê hulle is aangerand of verkrag om geldelike voordeel daaruit te trek. Huishoudelike geweld is nie noodwendig tot slaan beperk nie, maar kan ook finansiële uitbuiting wees,” het Marx gesê.

Misdade wat gepleeg word om dwelms te bekom, is aan die toeneem op Bela-Bela, maar so ook mensehandel, het Marx voorts gesê.

“Mense moet onthou as hulle versuim om misdade aan te meld, oortree hulle ook die wet,” het Marx gesê.

  AUTHOR
Andries van der Heyde

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
GPF behaal groot welslae teen misdaad op Mookgophong