Handige kleinkinders herstel pad

’n Trotse oupa en ouma van Bosveldsig op Modimolle ry op gladde paaie nadat hul drie kleinseuns die pad voor hul huis herstel het.

Dié drie seuns, wat nie skaam is vir harde werk nie, kom van Hartebeespoort af. Hulle het hul grootouers, Henri en Rhena Meistré in Bosveldsig Fase 7, kom besoek met hul gereedskap in die hand.

Connor en Callum Grant en Dylon Kingon het binne vier uur die straat voor huise nommer 36, 37 en 42 se oppervlak herseël en die slaggate herstel. Die seuns het kundige advies van hul pa gehad wat in die konstruksiebedryf is.

Die Pos het by Marlene van Staden, burgemeester van Modimolle en Mookgophong, aangeklop met die storie. Hoewel sy altyd dankbaar is vir inwoners wat help, waarsku sy dat daar wetlike aspekte is wat inwoners in gedagte moet hou. “Indien iemand seerkry of ’n ongeluk gebeur, kan hulle persoonlik aanspreeklik gehou word en ons wil dit nie hê nie. Ons raai mense aan om ons te kontak as hulle so iets wil aanpak, dan stuur ons ’n span amptenare van die munisipaliteit om hand by te sit en seker te maak alles voldoen aan die nodige wetlike aspekte,” het sy gesê.

  AUTHOR
Die Pos-span/The Post team

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Bela-Bela jazz lovers honour Phillip Tabane