Chemiese storting ná ongeluk op snelweg

’n Onverantwoordelike taxibestuurder was glo op Saterdag, 10 Junie, die oorsaak van ’n gevaarlike chemiese storting op die N1-snelweg sowat 4 km noord van die Kranskop-tolhek.

Volgens ’n bron in die provinsiale verkeersdepartement het ’n vragmotor, wat swaar gelaai was met ammoniumnitraat, teen ongeveer 16:00 uitgeswaai vir die taxibestuurder. Die taxibestuurder het glo ander voertuie roekeloos verbygesteek.

Die bestuurder van die vragmotor het beheer verloor en sy voertuig het omgeslaan. Die gevaarlike, vlambare vrag het oor die snelweg verspreid gelê. Die taxibestuurder het volgens bronne van die toneel weggery.

Die Waterberg Disaster Management Centre het om 16:39 ’n noodroep ontvang en onmiddellik gereageer. Hulle het die vrag as ammoniumnitraat uitgeken, waarna die snelweg gesluit en die verkeer via die R33 en R101 deur Modimolle herlei is.

Volgens Patrick Malete, woordvoerder van die Waterberg-distriksraad, het die span deurnag gewerk om die ammoniumnitraat op te ruim en die snelweg weer veilig vir verkeer te maak. “Ons kon die snelweg weer op Sondag om 10:40 vir verkeer oopstel,” het hy gesê.

Ammoniumnitraat word hoofsaaklik as bestanddeel in hoëstikstofkunsmis gebruik. Dit is ook ’n bestanddeel in plofbare mengsels wat in mynbou en siviele bouwerk gebruik word.

Die ammoniumnitraat wat op die snelweg geval het, is opgeruim sonder dat dit vlamgevat het en daar was geen beserings tydens die voorval nie, het Malete gesê.

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Break-in at Bela-Bela mayor Jeremiah Ngobeni’s house