Driekampatlete pak triathlon op Bela-Bela aan

Fikses en brawes kan gerus weer uitsien na die jaarlikse Standard Bank 5150 Bela-Bela Triathlon-byeenkoms wat op Saterdag, 12 Augustus, by Forever Resorts op dié dorp sal plaasvind.

Atlete swem vanjaar 1,5 km by Forever se ski-dam, ry 40 km fiets op die Alma-pad buite Bela-Bela en hardloop dan 10 km deur Forever Resorts se terrein. Verkeer gaan vir die duur van die wedren in Robertson- en Groblerstraat vertraag word.

Vanjaar word daar ’n bykomende wedloop vir ouderdomme 15-17 aangebied wat die Funtri genoem word waartydens  jonger atlete kragte kan meet in 400 m swem, 20 km fietsry en 5 km draf. 

Spanne van twee of drie kan aan dié wedloop deelneem.

Verlede jaar se manswenner tydens die Bela-Bela-byeenkoms was Travis Johnston wat die swem, fietsry en hardloop binne 01:59:13 voltooi het, met die vrouewenner, Andrea Steyn, wat die wedloop binne 02:14:31 voltooi het.

Suid-Afrika kan verder geëerd voel aangesien die Ironman 70.3 Wêreldkampioenskap vir die eerste keer in September 2018 in Afrika in Port Elizabeth aangebied word.

Vir meer inligting oor registrasies vir die 5150 Bela-Bela-byeenkoms kan mense die webwerf www.ironman.com/5150belabela besoek.

  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Bela-Bela will be hosting very popular triathlon again