Skote klap helder oordag in woonbuurt

Skote het helder oordag op Bela-Bela geklap nadat rowers ’n sakeman op die dorp by sy huis geteiken het.

Die voorval het op Dinsdag, 11 Julie, naby Laerskool Warmbad plaasgevind.

Volgens sers. Hester van Zyl, polisiewoordvoerder, is ’n sakeman, wie se naam om veiligheidsredes weerhou word, deur ’n vreemde man in die oprit van sy huis genader en met ’n vuurwapen aangehou. Die rower het geld by die sakeman geëis, waarna hy ’n klomp geld aan die rower oorhandig het. 

Twee rowers was glo by die voorval betrokke.

Van Zyl het gesê die rower met die wapen het op die sakeman geskiet, maar die skoot het net sy voertuig getref. Die twee rowers het toe te voet op die vlug geslaan.

Die sakeman het een van die rowers daarna met sy eie vuurwapen agterna gesit. Hy het die gewapende rower tot in Ludorfstraat gejaag en skote het tussen die sakeman en die rower geklap. Die sakeman kon daarin slaag om die rower vas te keer en het hom aangehou totdat hulp opgedaag het, het Van Zyl gesê.

Die gemeenskap, asook die Bela-Bela Crime Support-groep (BBCS), se hulp is ingeroep om die verdagtes vas te trek. Nantis Luus van die BBCS het by navraag gesê die lede het die ander verdagte naby die munisipaliteit aangekeer.

Van Zyl het voorts gesê niemand is tydens die skietvoorval gewond nie en ’n saak van gewapende roof word tans ondersoek. 

Die twee verdagtes is in aanhouding en sal binnekort in die hof op Bela-Bela verskyn.

Elri Arlow van BBCS het gesê inwoners moet versigtig wees aangesien misdaad weer aan die toeneem is en deesdae helder oordag plaasvind. “Wees daarom ekstra versigtig en meld verdagte aktiwiteite dadelik by die polisie aan”, het sy gesê.

Die polisie vra dat enigiemand wat meer inligting oor die roof kan verskaf, kapt. Renier Schutte moet bel by tel. 082 565 9051 of by tel. (014) 736 9733.

  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Inbrekers buit televisies en kontant by Modimolle-sakeonderneming