Troeteldiere glo vergiftig

Hartseer inwoners van ’n kompleks op Modimolle blameer ’n “verbitterde” inwoner vir die vergiftiging van vier troeteldiere die afgelope week. 

Hulle het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak. 

Magda Venter, wat in Hagen Park bly, sê haar seun se twee opregte Ragdoll Persiese katte bly tydelik by haar. Een van die katte het op Saterdagoggend, 22 Julie, om 05:40 net meer as ’n halfuur nadat sy haar uit die huis laat gaan het, roggelend op haar bed geklim. Die kat het opgegooi en was heeltemal deurmekaar. 

“Die kat het later erg begin miaau van die pyn. Ek het ’n handdoek oor haar gegooi terwyl ek vir my seun gewag het sodat hulle veearts toe kon gaan,” het sy gesê. Die kat is egter dood. 

Nog ’n inwoner, Lizette Enslin, se agtjarige seun se kat is vermoedelik dieselfde oggend vergiftig. Nadat die kat die oggend net ná 07:00 met ’n stywe agterlyf by die huis ingekom het en kort daarna stuiptrekkings begin kry het, is hulle inderhaas met die dier veearts toe. “Die kat het naar geword van wat lyk soos pienk polonie,” het sy gesê. Hulle vermoed dat die gif in die polonie gesit is. Die veearts kon die kat gelukkig red. 

Volgens Enslin het die veearts gesê die kat is met organofosfaat vergiftig. 

Nog ’n bruin hondjie en ’n gemmerkat is glo vergiftig. Een van Enslin se katte is ’n jaar vantevore ook dood nadat dit vermoedelik vergiftig is. 

Venter het gesê ’n buurman in die kompleks het haar kort tevore gewaarsku dat hy die katte “medisyne” gaan gee. “My katte loop nie rond nie; hulle bly in die huis,” het sy gesê. “Ons is kwaad. My seun se katte het elk meer as R3 000 gekos en Lizette se veeartskoste het R1 700 beloop. Dit is regtig ’n verbitterde mens wat so iets aan iemand anders se troeteldier doen,” het sy gesê. 

“My kind slaap nie snags nie — hy was baie lief vir sy kat. As iemand ’n probleem met my diere gehad het, moes hy met my kom praat het. Om gif uit te sit wat enige dier of mens in die hande kan kry, was nie die regte manier om op te tree nie,” het Enslin gesê.

Ao. James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het bevestig dat die vergiftiging van diere ’n misdaad is wat vervolg kan word. 

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Afgetrede veearts steeds kritiek ná plaasaanval buite Modimolle