Kansa-dag bied hope pret met ‘superhelde’

Mense wat ander help bewus maak van die voorkoming van kanker, het op Saterdag 8 September hul superheld-kostuums uit die kas gehaal en hulself na die Kansa Relay for Life by ATKV-Klein-Kariba se gholfbaan buite Bela-Bela gehaas.

Oud en jonk, asook gesinne, het die dag bygewoon en die projek ondersteun, het Ansie van Heerden, Kansa se plaaslike projekfasiliteerder, gesê.

Die dag is gereël om geld in te samel wat tot die voorkoming en behandeling van kanker kan bydra.

Mense wat dink hulle is so fiks soos Batman of Wonderwoman het litte losgemaak toe die aktiwiteite afskop.

Kansa-vrywilligers het oor die afgelope ses maande hard gewerk om die Relay te reël en die organiseerders is dankbaar vir almal se harde werk, het Van Heerden gesê.

Die dag het amptelik begin wanneer mense wat kanker oorleef het tussen 16:00 tot 17:45 met ’n lekker ete bederf is.

Die amptelike opening van die Relay was om 18:00, gevolg deur die eerste rondte wat deur die mense wat kanker oorleef het en hul versorgers, gestap is. Versorgers sluit enigiemand in wat kankerlyers bygestaan het of steeds bystaan, het Van Heerden gesê.

Sy het gesê daar het tussen 40 en 45 spanne wat aan die pretaktiwiteite deelgeneem.

Nadat die eerste ronde gestap is, het die aflosse begin — van stap, tot fietsry en oefenfietsry (spinning).

Elke span is vooraf aangekondig, waarna elkeen ’n spankreet gereed moes hê.

Die Luminaria-seremonie, wat later die aand plaasgevind het, was baie spesiaal toe alle ligte gedoof is en mense met kerse ter ere aan iemand wat aan kanker oorlede is om die baan gestap het.

Dit was gevolg deur temarondtes wat gestap of met fietse gery is, oefenfietsry, boeresport en ander pret het tot middernag geduur, het Van Heerden gesê.

Drie gesogte wisseltrofeë was teen die einde van die aand aan die top spanne oorhandig.

Spanlede moes hul stempelkaarte (wat tydens die inskrywing ontvang is) vol stempels hê om te wen, het Van Heerden gesê.

Vir die jonges en honger mense was daar kosstalletjies met aartappelskyfies en sous, hamburgers en boereworsrolletjies, kerrie-en-rys, vetkoek met maalvleis, pannekoek en ’n koffiestalletjie met koek.

Ouers het voortgegaan met die Relay terwyl die kinders vanaf 20:30 na die saal beweeg het en op die grootskerm televisie gekyk het.

Kansa se Toktokkie het ook gesorg vir kindervermaak.

Kansa-verteenwoordigers het deur die dag kankersiftingstoetste gedoen teen ’n bekostigbare prys.

 

Alle ander borgskappe en donasies sal Kansa help.

  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top