Bekendes kom kuier by Nyliefees

Van die land se topkunstenaars sal vir die eerste keer by die Nyliefees in Modimolle saamkuier. Dié fees vind die naweek van 14-16 September op die skoolterrein van Hoërskool Nylstroom plaas. Pieter Koen is een van die sangers wat op Vrydagaand om 19:30 die feesverhoog aan die brand sal sing.

Hope vermaak, ’n verskeidenheid stalletjies en kossoorte te kies en te keur, is waarna Waterbergers wat beplan om die Nyliefees by te woon, kan uitsien.

Teen slegs R30 vir skoolleerders (voorskoolse kinders kry gratis toegang) en R50 vir volwassenes kan oud en jonk vanaf Vrydag 14 September tot Sondag 16 September aan die pret deelneem.

Kaartjies is aanlyn by www.ticketpros.co.za en ook by die hekke van die feesterrein by Hoërskool Nylstroom beskikbaar.

 

Van die land se beste kunstenaars sal feesgangers vermaak

Daar word ook ’n groot verskeidenheid aktiwiteite en kompetisies deur die loop van die naweek aangebied en groot pryse is op die spel.

Kunstenaars sluit die Waterberg se eie Franna Benadé en Juba in, asook Pieter Koen, Juan Boucher, Tussen Sterre, VIRAnder en Freckled Elvis.

Die Afrikaanse rockgroep Harrebaard se vertoning behoort vir groot pret te sorg. Dié groep bestaan uit ’n paar bekende Afrikaanse akteurs wat deesdae ook hul lywe musikant hou. Oubaas van 7de Laan (Pierre van Pletzen) sal agter die tromme inskuif en die gladdebekprokureur en begrafnisondernemer, Tony Fivaz (Frank Opperman) wat televisiekykers so ontstel het met sy streke in ’n doodskis in die dramareeks Vlug na Egipte, sal die elektriese kitaar se snare laat sing.

Van die kompetisies wat tydens die fees aangebied word, sluit in OK Foods se Potjiekoskompetisie waar spanne sal meeding om die beste potjie in die Waterberg. Dit is die ideale geleentheid vir sakeondernemings om hul ondernemings te bemark of sommer net spangees te bou.

Skoolleerders sal tydens die Courier Guy Battle of the Schools-kompetisie hul beste talentvoetjie voorsit om te bepaal watter skool in die Waterberg se leerders die beste met hulle talente kan woeker.

Diegene wat droom van ’n sangloopbaan kan dalk die eerste stap in dié rigting gee deur deel te neem aan die Modi Mall Talent Search-kompetisie. Daar is ’n groot kontantprys vir die wenner van dié kompetisie op die spel.

Daar sal ook heelwat pryse, wat deur die borge van die Nyliefees beskikbaar gestel word, deur die loop van die naweek aan feesgangers uitgedeel word.


Vir meer inligting oor die fees besoek die Facebook-blad @Nyliefees of besoek die webtuiste www.nyliefees.co.za.

Stuur gerus ’n e-pos na marlene@lastinglegacyentertainment.co.za of info@waterbergsake.co.za of kontak Marlene de Villiers by tel. 065 891 6616.

  AUTHOR
Die Pos-span / The Post team

Latest News

COMMENTS

Top