Mookgophong-inwoners sit koppe bymekaar

Mokone du Preez, Naboomspruit-sakekamervoorsitter, aan die woord tydens die GOP-vergadering in Wyk 5 van Mookgophong.

Die vergadering is in Laerskool Eugène N. Marais se saal gehou.

Mokone du Preez, voorsitter van die Naboomspruit-sakekamer, het sy teleurstelling in sy opening uitgespreek oor die min inwoners wat teenwoordig was.

“As ons ’n verskil wil maak, sal meer mense inligtingsvergaderings moet bywoon, want dit is ’n geleentheid om klagtes aan te hoor en oplossings te probeer vind,” het hy gesê.

Hy het ook gesê mense het hul aftreegeld in die omgewing belê en dat hulle dit nie kan verloor nie — Mookgophong moet bemark word.

Burgemeester Marlene van Staden het ’n paar van die knelpunte uitgelig en aan die vergadering verduidelik wat die afgelope tyd gedoen is om probleme te probeer oplos.

“Die munisipaliteit is steeds onder provinsiale administrasie, maar ongelukkig het ons nog geen geldelike hulp ontvang nie. Ons het egter amptenare gekry om probleme uit te wys en op te los,” het Van Staden gesê.

Volgens Van Staden is ’n kontrakteur aangestel om die beskadigde sypaadjies in Nelson Mandelalaan, wat deur die lê van die nuwe asbespyplyn veroorsaak is, te herstel.
Die substasie behoort teen Woensdag 31 Oktober opgegradeer te wees wat die probleem betreffende die elektrisiteit sal oplos, het sy gesê.

Van Staden het opgewonde vertel dat daar ’n opwaartse inkomste van R16 miljoen na R22 miljoen per maand by die munisipaliteit is. Dit moet egter nog verbeter om die geldelike krisis te verlig, maar “dit is positief en ons is baie dankbaar”.

Die meeste besware van inwoners was die tekort aan water en die vragmotors wat snags in die dorp oornag.

“Dit verhoog prostitusie en maak dit moeilik vir verkeer in die hoofstraat,” het Gawie Stols, ’n inwoner van Gholfpark gesê.

In reaksie het Du Preez gesê dit is ’n groot probleem en daar moet ’n oplossing gevind word om ’n plek vir vragmotors te bied om te oornag.

Nog ’n inwoner het voorgestel dat verkeersbeamptes se skofte so verdeel word dat hulle saans in die strate kan wees om die situasie te beheer en die be-stuurders van onwettige vragmotors kan beboet.

Van Staden het vir Bongani Maswangane, ’n nuwe bestuur-der in die kantoor van die muni-sipale bestuurder, voorgestel. Hy sal voortaan probleme wat inwoners ondervind, behartig.

  AUTHOR
Marietjie Steenkamp
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top