Raadslede ‘saboteer’ glo dienslewering

Die raadsaal het op Woensdag 3 Oktober half leeg bly staan toe ’n belangrike raadsvergadering van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit uitgestel moes word omdat meer as die helfte van die raadslede nie opgedaag het nie.

Belangrike besprekings wat dienslewering direk raak, waaronder die aanvaarding van die nuwe afbetalingsooreenkomste met Eskom en Magalies Water, die aanstelling van ’n tydelike munisipale bestuurder sodat die huidige bestuurder op verlof kan gaan, asook ’n bespreking oor die waardasierol, was op die agenda.

Die munisipaliteit is in diep water wat hul geldsake betref. Volgens Marlene van Staden, burgemeester, skuld die raad sowat R280 miljoen aan Eskom. Eskom het reeds stappe gedoen om die dorp se kragtoevoer af te sny indien daar van die afbetalingsooreenkoms afgewyk word. Dit sal katastrofiese gevolge vir sakelui inhou.

Daar is ’n verdere R17 miljoen aan Magalies Water verskuldig en nog R50 miljoen aan verskeie ander skuldeisers, het Van Staden gesê. Etlike miljoene rand se skuld is onlangs by van die krediteure soos die inkomste-diens, departement van vervoer en ander vereffen.

Nie een van die 13 ANC-raadslede het die jongste vergadering bygewoon nie. Die speaker, DA-raadslid Dingaan Motshwene, het gesê hy het kort voor die vergadering sou begin ’n brief ontvang wat aangedui het dat die raadslede ’n herdenkingsdiens bywoon en afwesig sal wees. Hy het gesê verskonings moet egter volgens die ordereëls ses uur vooraf gemaak word. Die brief was volgens hom ook nie onderteken nie.

Twee van die EFF-raadslede was ook afwesig, wat beteken dat die raad nie ’n kworum gehad het nie en die vergadering dus nie kon voortgaan nie. Ná ’n kort onderbreking om te kyk of nog raadslede opdaag, het die EFF-raadslede die saal verlaat.

In ’n mediaverklaring het Motswhene die EFF en ANC daarvan beskuldig dat hulle dienslewering saboteer.

“Hierdie is kritiese sake wat dringend bespreek moes word omdat dit in die belang van die inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is en daarop gerig is om dienslewering te verbeter. Dit is onaanvaarbaar dat hierdie raadslede hul plig teenoor inwoners versuim het.

“Die ANC en EFF se uitvoerende komiteelede het ook nie die uitvoerende komitee se vergadering op Woensdag 19 September bygewoon nie. Hierdie gedrag veroorsaak agterdog dat daar ’n gesamentlike poging deur die ANC en EFF is om die werk van die raad te ontwrig en te verseker dat die munisipaliteit daarin faal om dienste te lewer. Hierdie optrede is niks anders as sabotasie om die inwoners daarvan te ontneem om gehalte dienste te ontvang nie,” het Motshwene geskryf.

Rufus Mahoro, hoofsweep van die ANC, het gesê die ANC-raadslede was nie daarvan bewus dat daar ’n raadsvergadering was nie. “Ons was verras om ’n mediaverklaring deur die DA te sien wat vir ons wys hoe onbevoeg die DA is om dienste aan die gemeenskap te lewer,” het hy gesê.

Van Staden het egter in reaksie daarop gesê die raadslede het die vergadering op ’n gesamentlike WhatsApp-groep bespreek.

“Hulle was bewus van die vergadering,” het sy gesê.

Die vergadering sou, volgens haar, moontlik weer vir vandeesweek belê word.

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top