Groot kommer heers oor vermoë van Waterberg-distrik se nooddienste

Slegs twee van die ses brandbestrydingsvoertuie wat by die rampbestuur-sentrum in Modimolle staan, is na verneem word in ’n werkende toestand. Volgens ’n verslag is al die brandweerstasies in die Waterberg-distriksmuni-sipaliteit drasties onder-beman, wat die gevaar vir inwoners én brandweermanne verhoog. Foto: Herman Steyn

Die rampbestuursentrum in Modimolle en Mookgophong sal waarskynlik nie opgewasse wees om ’n ramp af te weer indien ’n groot brand uitbreek nie.

Slegs twee van die ses voertuie vir brandbestryding in Modimolle is in ’n werkende toestand en slegs een van die ses voertuie in Mookgophong werk, ongeag die herhaalde versoeke om dit voor die brandseisoen te herstel. Ernstige personeeltekorte kniehalter ook doeltreffendheid.

Verskeie brandbestrydingsvoertuie staan in onbruik sedert Januarie vanjaar by die rampbestuursentrums op Modimolle en Mookgophong. Daar is glo nie geld beskikbaar om die voertuie te herstel nie. Foto: Herman Steyn

 

Dié ontstellende onthullings is gemaak in ’n mediaverklaring deur distriksraadslid Nadine Laubscher, die DA se koukusleier in die Waterberg-distriksmunisipaliteit.
Volgens Laubscher het hulle op Dinsdag 9 Oktober ’n versoek aan die uitvoerende burgemeester van die distrik, Morris Mataboge, gerig dat ’n dringende plan gemaak moet word om al die brandbestrydingsvoertuie wat sedert Januarie vanjaar in onbruik in die twee dorpe se rampbestuursentrums staan, te herstel.

Laubscher het gesê daar is ’n medium-grootte pomp en ’n bospompvoertuig in ’n werkende toestand in Modimolle, maar dat ’n Iveco RIV, Toyota Hilux LDV, Mercedes Command Unit en Chevrolet Offroader onklaar is.

“Die operasionele vereistes vir Modimolle én Mookgophong vereis dat hulle minstens 25 brandbestrydingspersoneel moet hê, maar daar is tans net tien in diens. Die laaste keer dat dié werknemers beskermende klere ontvang het, was in 2010,” het sy gesê.

Volgens ’n verslag oor die stand van rampbestuur wat vanjaar voor die distriksraad gedien het, is die sentrums ontstellend onderbeman in vergelyking met dié van sentrums van die omliggende distrikte. Die verslag lui dat die distrik (wat brandweerstasies in Thabazimbi, Lephalale, Modimolle, Mookgophong, Mogalakwena en Bela-Bela bestuur) slegs 33 brandbestryders in diens het teenoor die Capricorn-distrik se 75, Mopani se 82, Sekhukhune se 80 en Vhembe-distrik se 117 brandbestryders. Dié tekorte lei glo daartoe dat brandbestryders lang ure moet werk wat hul kanse op beserings verhoog.

Nog ’n bron van kommer is glo dat die Modimolle-rampbestuursentrum naby ’n brandstofverspreider geleë is wat meer as ’n miljoen liter vlambare vloeistof stoor, wat ’n ernstige gevaar vir die munisipaliteit kan inhou ingeval van ’n brand.

Een van die groot struikelblokke blyk befondsing te wees.

Luidens die mediaverklaring word sake vererger omdat Bela-Bela se brandweer-stasie nie in bedryf is nie. Geen begroting is glo in die 2017/2018-boekjaar toegeken aan Lephalale-, Bela-Bela- en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteite nie weens ’n tekort aan geld.

“Daar is ’n tekort aan brandbestrydingspersoneel by al die brandweerstasies in die distrik wat daartoe kan lei dat die munisipaliteite regsgedinge in die gesig kan staar indien daar ’n groot voorval is,” het Laubscher gesê. “Talle van die personeellede is nie eens behoorlik opgelei nie.”

Die verslag wat voor die raad gedien het, het daarna verwys dat die distrik se rampbestuur nie opgewasse was om die SuperSpar-brand verlede jaar in Bela-Bela te hanteer nie en dat brandbestrydings-personeel en –toerusting inderhaas van Tshwane af ontbied moes word.

Wetgewing vereis dat munisipaliteite hul plig nakom en brandbestrydingsdienste beskikbaar het. Dit is as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer.

Teen druktyd het Die Pos geen antwoord op vrae aan die distrik ontvang nie.

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top