Tuindag: Johan sorg dat dié gholfbaan se gras mooi bly

Johan Koch spog met Koro Creek se lowergroen gras.

As ’n mens raad wil hê oor hoe om jou grasperk welig groen te kry, wie beter om te vra as die man wat na die grootste grasperk in die dorp omsien?

Johan Koch is verantwoordelik vir die gras op Koro Creek-gholflandgoed buite Modimolle.

Koch sê voeding is belangrik vir gesonde plante.

“Die beste chemiese kunsmis sal 15 + 15 + 15 wees. Dié syfers verwys na die stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K). Stikstof gee die groen kleur aan die plant en ’n mens kan te veel stikstof gee. Fosfor is ’n noodsaaklike voedingstof vir plante in die lente, maar dit is nie te laat om dit nou te gee as jy dit nog nie gedoen het nie. Kalium is baie belangrik en speel ’n groot rol in die wortel- en stamgroei. Dit help ook die gras om dikker selwande te bou en versterk die plant om beter weerstand te bied teen koue, hitte, droogte en siektes,” is sy raad.

“Gee gereeld water, indien moontlik. Die beste tyd is laatmiddag of vroegoggend. ’n Besproeiingsisteem help beslis baie. As dit moontlik is, gee een dag in die week goed water en op die ander dae minder. As die gras goed water kry, loop dit na die wortels toe en wanneer dit minder kry, help dit die gras om af te koel.

“Die goue reël wanneer jy die gras sny is om nooit meer as ’n derde van die plant af te sny nie. Dit plaas die plant onder te veel spanning. Sny eerder minder maar meer dikwels. As jy die spasie en tyd het, is die gras uit die grasbak die beste kompos,” het hy gesê.

Die beste manier om onkruid te verwyder, is volgens Koch om dit met die hand te verwyder wanneer dit nog klein is. As dit te veel is, kan onkruiddoders gebruik word. Hy beveel Super Lawn Weeder aan.

“Dit is ’n onkruiddoder en die aktiewe bestanddeel is Dicamba (dimethylamine salt). Dit werk soos ’n bom. Spuit laer dosisse twee maal eerder as een groot dosis. Dit kan alle grassoorte dood maak as die mengsel te sterk is,” het hy gewaarsku.

“Die beste gras vir ons omgewing, sou ek sê, is LM-gras. Dit het ’n breër blaar as wat kikoejoe het. Dit is beskikbaar in saadvorm of blokke gras. Saad is goedkoper, maar neem langer om te groei. Blokke gras is volgroeid en is dadelik reg.

“As jy verkies om te saai, is dit ’n baie lekker gevoel om te sien hoe die klein grassies nuut en van so klein af groei. Die beste raad wat ek kan gee, is om die grond los te maak en te hark. Saai volgens die verskaffer se aanbeveling. Hark die saad weer liggies toe. Dit werk goed as ’n mens dit dan met oesbedekking (crop cover) bedek. Dit is ’n ligte bedekking wat by koöperasies beskikbaar is. Dit help die saad om klam en koel te bly, amper soos ’n klein groeikas,” sê hy.

Aan die begin is minder water meer gereeld goed.

Later kan die gras minder gereeld maar meer water op ’n slag gegee word.

As die plant sy derde blaar begin maak, kan jy dit begin sny. Maak seker dat die wortels vas gegroei het voordat jy sny.

As jy in die warmer maande van die jaar gesaai het, kan jy die oesbedekking ná die sny terug sit.

Maak seker dat die blare nie deur die oesbedekking groei nie, anders trek jy, wanneer jy dit later verwyder, die hele plant uit, het Koch gesê.

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top