Oud-Warrie wat naam maak as landskapsargitek gee tuinraad

Van die pragtuine wat Wihann Felstead, oudinwoner van Bela-Bela, ontwerp het. Foto: Verskaf

Met die oog op Tuindag, wat op Sondag 21 Oktober landwyd gevier word, het Die Pos met Wihann Felstead gesels, ’n oudleerder van Laerskool en Hoërskool Warmbad én Bosveldspruitjies Kleuterskool, wat deesdae groot naam as landskapsargitek in Gauteng maak.

 

Wihann Felstead.

 

Felstead het onder meer in 2017 weggestap met verskeie pryse by die bekende Garden World Lenteskou in Johannesburg. Hy verskyn ook gereeld in tuinbou- en leefstyltydskrifte en op televisie. Vanjaar is hy weer bekroon met goud vir een van sy tuine by die Garden World Lenteskou.

Wat is die nuutste tuinmaakgiere — plaaslik en oorsee?
Die nuuste tendens is “meadow gardening”. Dit is basies die gebruik van ornamentele grasse, meerjarige struike en seisoenale bolle wat selektief geplaas word. Dit verg lae onderhoud en is waterslim. Met die regte kombinasie van plante en grasse, kan ’n tuinier reg deur die jaar kleur, tekstuur en kontras kry. Nie net is dit ’n mengelmoes van kleure nie, maar dit help ook om die natuurlewe terug te lok na jou tuin. Dié manier vorm ’n mooi kontras teen moderne glashuisstrukture of komplementeer ou strukture.

Hoe kan ’n mens jou gewone dorpstuin met min water, min tyd en ’n klein begroting in ’n lushof omskep?
Kompos, kompos, kompos. ’n Huis sonder ’n komposhoop, is soos ’n kerkbasaar sonder ’n kitsch botterversierde sponskoek. Ons word daagliks omring deur herwinbare huishoudelike produkte wat ingewerk kan word in ons tuine om grondgehalte te verbeter.

Suid-Afrika is geseën met die mooiste flora — waarvan die meeste plante waterslim is. Vetplante en grasse kan ná elke groei-seisoen verdeel word om areas te bedek.
Die regte kombinasies van verskillende loof, tekstuur en kleur kan enige tuin dadelik opkikker en versag.

Deur slim gebruik te maak van harde landskapelemente soos spoelklippe, hout of sement kan groot areas omskep word in ’n lae onderhoud en waterslimtuin.
Die groot geheim is om by eenvoudige beddinglyne te bly en ver weg te bly van daardie aaklige “tuinslangrandjies”.

Wat is jou gunstelingblom of -struik?
My gunstelingplant is beslis Stipa tenuisimma — die Meksikaanse veergras. Die plant bring ongelooflike sagte tekstuur aan ’n tuin en bring ’n gevoel van beweging in die tuin wanneer die loof dans in ’n sagte briesie.

Gee ’n bietjie raad oor vertikale tuine omdat spasie beperk is en die gebruik van potplante
As kind het ek altyd gedink dit is net minderbevoorregte mense wat spog met met potjies viooltjies in vensterbanke, varings in mecrame en steggies in glasbottels. Vandag is daar geen spasie vir kind of kraai in my huis weens my binnehuise plante nie. Ek is wel platsak, maar “ryk” aan natuur en skoonheid.

’n Verweerde rottangmandjie in die hoek van jou sitkamer, of selfs Ouma se groot rooikoperpot op die rand van jou bad, gevul met plante, bring vreugde en lewe in enige dooie hoek. Binnehuise plante is deesdae so maklik om by enige groot kettingwinkel te kry. Die groot geheim vir die onderhoud van die plante is om te herplant in ’n goeie pot-grondmedium, die potte klam te hou en seker te maak oor die plant se ligvereistes.

Vertikale tuine is ’n kuns as dit kom by onderhoud en slim keuses moet gemaak word by die aanskaf van plante bekend as “companion planting”. Tuinboukundiges maak gebruik van materiaalpanele met individuele “pockets” wat vasgeheg word aan ’n muur of struktuur.

Die groot geheim is om die vertikale tuin nat of klam te hou aangesien die grond baie min of beperk is. Dreinering speel dus ook ’n baie groot rol.

Watter groentesoorte kan ’n mens hier in die Waterberg plant vir huishoudelike en estetiese waarde?
Mense dink altyd ek is gek as ek kruie wil meng met struike in beddings, maar tog is daar soveel kruie wat werk in beddings.

Nie net het kruie vir ons huishoudelike waarde nie, maar dit help ook met plaagbeheer in ons tuine en verskaf interessante loof- en blomkleur.
Daar is niks mooiers as boerpampoen wat ’n ou staalstruktuur toerank of groen boereboonblomme wat ’n lelike heining toerank nie.

Kruie soos vinkel, basiliekruid, salie, pietersielie en sitroengras (lemon grass) is ideale plante om areas tussen beddings te vul.

Meerjarige struike soos roosmaryn en laventel kan gebruik word om groter areas te vul.

Ek gebruik tans baie artisjokke in tuine vir hulle pragtige silwer kleur en leeragtige blaarstruktuur.

Die groot geheim is goeie dreinering en baie son.

Watter chemikalieë wat op die mark beskikbaar is, kan gebruik word vir ’n groentetuin?
Die ghoeroe van groente- en kruietuine, wyle Margaret Roberts, het ’n organiese insekdoder op die mark wat ek sterk aanbeveel vir enige kleinskaalse groentetuin. Hierdie produk is 100% organies.

Connie van Wyk van Bela-Bela het self ’n dodelike rissiegevaarmengsel wat enige insek of selfs ’n lastige “selfhelp-kliënt” sal laat snak na asem.

  AUTHOR
Keina Swart
Editor & Co-owner

Latest News

COMMENTS

Top