Tuindag: Tuinkenners help om vingers groen te maak

Barlané Kotze doen waterslimtuinuitleg in Modimolle.

Die Pos het by drie plantgeesdriftiges gaan aanklop vir praktiese raad.

Barlané Kotze doen waterslimtuinuitleg in Modimolle. Sy sê hoewel inwoners slim planne gemaak het om gryswater te gebruik of om reënwater in tenks op te gaar, dit steeds nie voldoende water vir sommige tuine is nie.

Sy beveel aan dat mense inheemse plante plant wat minder water gebruik.

“Deur grasperke te vervang met kalksteen- of granietklippies, kan inwoners reusehoeveelhede water spaar.

“Dit help ook met dreinering gedurende swaar reën en storms. Kliptuine het onlangs ’n moderne manier van tuinmaak geword juis weens die gereelde droogtes in Suid-Afrika. Dit lyk mooi en skep ’n pragtige atmosfeer wat aanpas by die omgewing of inwoners se smaak, byvoorbeeld ’n tema soos ’n reënwoud, ’n leeshoekie, Bosveld of woestynagtig.

“Kliptuine is bekostigbaar en is ’n langtermynbelegging wat baie minder instandhouding vereis as blombeddings. Areas kan opgekikker word met klippe of groot potte waarin plante steeds kleur kan bring sonder om baie water te gebruik,” het sy aanbeveel.

 

Elize Sauer het ’n groot liefde vir orgideë.

Elize Sauer se passie lê by haar versameling van sowat 70 orgideë.

Sy glo dat kennis ’n tuinier bemagtig om die meeste uit die plante te kry.

“Ná die lente is die eerste blomtyd verby en stoot die orgidee nuwe lote en groei welig. Dit is belangrik om nou vir hulle genoeg voedingstowwe te gee wat groei stimuleer sodat hulle later mooi blomme maak. Ek glo dat ’n bietjie voeding elke week die doeltreffendste is,” het sy gesê.

Sy verkies enige visserige voeding.

“Hitte is een van die uitdagings en ’n mens moet seker maak dat die plante voldoende water in warm tye kry. ’n Mens moet die balans hou. Orgideë wil nie heeltyd nat wees nie, anders kry dit wortelvrot — die bol raak papperig.

“As jy gewoonlik een keer in vyf of ses dae water gee, gee een keer elke vier dae water as dit baie warm is. Hulle hou van water wat laatmiddag met ’n spuitkannetjie op hulle gesproei word.

“Kyk ook deurlopend vir tekens van insekte — rooispinnekop steek gou kop uit in die droogte. Die plante soek son, maar nie te warm direkte sonlig nie, dan maak dit vlekke op die blare. Die blare is gewoonlik ’n ligte groen, nie ’n diepgroen nie.

“Al wat dié besondere plante verder vra is liefde en omgee — elke nuwe loot is dan ’n potensiële nuwe blom!”

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top