Munisipale grond glo vir ’n appel en ei verhuur

Dié drastiese stap is glo nodig om grond beskikbaar te maak sodat die skewe grondbesitprentjie herstel kan word, aldus die regering.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier van die Vryheidsfront Plus, het egter sy bedenkinge oor die nodigheid van dié stap in ’n brief aan Die Pos uiteengesit. Hy maak ook sorgwekkende bewerings oor grondbesit van munisipaliteite.

“Daar is broeiende kwessies in die land oor geld en grond. Die ekonomie bloei dood weens korrupsie en wanbestuur. Grond moet sonder vergoeding onteien word om die verlede reg te stel terwyl die hede steier onder onbekwaamheid en nepotisme,” het hy geskryf.

“Die skuldlas van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit beloop miljoene. Die omsigtige omgaan met geld en grond behoort vanselfsprekend te wees.

“Ek het meer as ’n jaar gelede ’n grond-oudit van genoemde munisipaliteit versoek. Ten einde raad het ek inliging via die departement van koöperatiewe dienste verkry,” het hy geskryf.

Volgens sy brief besit die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit nege plase in die Donkerpoort-gebied wat meer as 865 654 hektaar beslaan. Verdere grondbesit is on-geveer 52 600 hektaar wat kleinhoewes en plase in die Vaalwater-gebied insluit.

“Sowat 4 293 hektaar weiding word onder meer aan politici en sakelui verhuur teen bedrae wat ’n belediging vir inwoners is. Ek haal enkele voorbeelde aan: 350 hektaar teen R55, 225 hektaar teen R10 en 300 hektaar ook teen R10.

“Agterstallige huurgeld beloop duisende rande. Voorbeelde van individuele bedrae is R82 080, R16 164 en R20 889. Enkele huurders het klaarblyklik nie kontrakte nie terwyl ander se kontrakte verval het – sommige so lank terug as 2009 en 2011,” het sy brief gelui.

Volgens Niewenhuis verhuur die munisipaliteit vyf kleuterskole en twee dagsorgsentrums teen R10 per maand per perseel. Ten spyte van die lae bedrag word agterstallige huurgeld aangegee as R29 277.

Een onderneming wat verhuur word en klaarblyklik ’n huurkontrak het, se rekening beloop R20 889.

“Dis meer as ’n vermoede dat dit die spreekwoordelike ore van die seekoei is. Veral wanneer in ag geneem word dat die bateregister van die Mookgophong-munisipaliteit tot op hede nie opgespoor kan word nie. Onbevestigde inligting wil dit hê dat die bateregister vernietig is. Dit op sigself is kommerwekkend.

“Die vraag kan gestel word of daar werklik so ’n nypende tekort aan grond is. Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is gewis nie die enigste voorbeeld waar, indien grond en geld reg bestuur is, dit ’n benarde finansiële situasie grootliks kon voorkom nie. Die wanbestuur, oftewel vermorsing van die munisipaliteit se bates en fondse, raak belastingbetalers elke keer as ’n lig aangeskakel, ’n kraan oopgedraai of motorbande deur slaggate beskadig word. En veral wanneer erfbelasting ’n gat in jou begroting maak.”

Niewenhuis glo die tyd het aangebreek om laks, onbevoegde amptenare met bekwames te vervang.

Die Pos het die bewerings aan Patrick Shika, woordvoerder van die munisipaliteit, voorgelê. Hy het gesê dat hy eers ondersoek sal instel en op ’n later stadium kommentaar kan lewer.

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top