Help eerder ‘stout’ leerders as om hulle te skors

Thinus van der Heever en Gerda Pringle van Bela-Bela glo leerders wat in die moeilikheid by hul skole beland, kan weer suksesvol in die skolestelsel verwelkom word.

Om skoolleerders vir ’n tydperk te skors nadat hulle skoolreëls oortree of selfs ’n misdaad gepleeg het, is nie meer sinvol nie.

Opbouende geregtigheid deur onderrig is ’n beter manier om geskorste leerders te help, het Thinus van der Heever van Edu Discipline in Bela-Bela aan Die Pos gesê.

Hy en sy kollega, Gerda Pringle, is albei lede van beheerliggame by plaaslike skole en hanteer veral dissiplinêre verhore van leerders.

Die Bela-Bela-polisie, die departement van sosiale ontwikkeling, die onderwysdepartement, verskeie kundiges, soos dr. Kobus Crous van die niewinsgewende onderneming Aletheia Experience, asook plaaslike skole van regoor Limpopo het alreeds deel geword van die Mollo Thaba Innovation Centre. Ouers en onderwysers besef dat geskorste leerders maklik kan terugval in hul onstuimige buie en dade ná die skorsingstydperk, reken dié kenners.

Die wet bepaal egter dat skole leerders slegs vir sewe dae mag skors.

Die spesiale program, wat oor vyf dae strek, is die afgelope paar maande met groot sukses vir geskorste leerders aangebied, het Van der Heever gesê.

“Of die leerder iemand aangerand of versuim het om sy huiswerk te doen, daar is ’n rede waarom hulle so opgetree het. In die meeste gevalle smag die leerder om aanvaar te word,” het Van der Heever gesê.

“Die proses begin wanneer die leerder se ouers tydens die dissiplinêre verhoor die keuse gegun word om die kind die program te laat volg en hom of haar tot verantwoording te roep vir hul dade. Die leerder word tydens die program bewus gemaak daarvan dat daar gevolge is wanneer hulle oortree.”

Volgens Pringle behoort skole nie net reëls vir leerders te leer nie, maar ook waardes. Dit gebeur dat leerders deesdae alleen tuis gelaat word sonder toesig. Aangesien albei ouers dikwels werk, word leerders op ’n vroeë ouderdom in hul eie sorg gelaat.

Mishandeling en dwelmverslawing raak duisende kinders en die negatiewe uitwerking hiervan kan daartoe lei dat leerders ’n uitdagende houding ontwikkel en met reëls en gesagsfigure bots, het sy gesê.

“Ons moet skole se kultuur verander sodat ’n positiewe gesindheid by die leerders tuisgebring word en dat hulle dit eerder sal nastreef,” het sy gesê.

“Deur hierdie program kan daar bepaal word wat ’n spesifieke leerder se behoefte is. Die beginsel van verantwoordelikheid en regte, wat pasmaats is, word ingeskerp.”

Volgens Pringle lewer dissiplinêre programme waar vrees, vergelding, skaamte en skuldgevoelens hooggety vier, nie goeie resultate nie.

Die Mollo Thaba-programme wat reeds aangebied is, het die leerders geleer wat die waarde van dissipline, verantwoordelikheid, selfbeheersing en om gesag te respekteer, is. Die programme bied ook terapie vir leerders aan en streef daarna om die ouers ten volle betrokke te kry.

Pringle en Van der Heever is dit eens dat sukses nie altyd gewaarborg word nie. Die leerder se gesindheid kan bepalend wees. Maar dat dié program ’n goeie alternatief is, is vir seker.

“Rehabilitasie word aanbeveel bo ’n leerder wat ’n kriminele rekord kry wat deel van sy of haar sosiale identiteit word,” meen hulle.

“Dit is nodig om leerders en selfs onderwysers te leer hoe om konflik te hanteer en dit is belangrik dat leerders die waardes van ’n skool aanvaar. As hulle positief oor hul skool is, sal hulle wegbly van negatiewe invloede,” het Van der Heever gesê.

Deur goeie mentorskap, wat deel is van die program, kan leerders selfvertroue ontwikkel, hul akademie verbeter, by skoolaktiwiteite betrokke raak, gesonde verhoudings ontwikkel, vaardighede aanleer en minder geneig wees om by dwelms of misdaad betrokke te raak, het Pringle gesê.

  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top