Miljoene bewillig om munisipaliteit se reuseskuldlas te help verlig

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit kan so effens gemakliker asemhaal nadat die provinsiale regering R70 miljoen toegeken het om die geldlas te verlig.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het die munisipaliteit sedert Junie geldelike ondersteuning van die provinsiale regering ontvang in terme van artikel 139(2) van die grondwet.

“Die groot skuldlas wat ons geërf het nadat die munisipaliteite van Modimolle en Mookgophong saamgesmelt het, het die munisipaliteit se vermoë om dienste te lewer ernstig belemmer,” het sy gesê.

Phuti Seloba, die provinsiale regering se woordvoerder, het tydens ’n mediakonferensie in Polokwane gesê die uitvoerende raad het besluit om die bedrag toe te ken omdat die munisipaliteit van sy diensteverskaffers nie kon betaal nie. Volgens Seloba sal ’n versuim om te betaal tot gevolg hê dat daar beslag gelê word op munisipale eiendom.

Van Staden het die provinsiale regering versoek om die munisipaliteit se krediteure, wat Eskom, Magalies Water, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die balju en die ouditeur-generaal insluit, direk te betaal.

Die munisipaliteit is onder groot druk van dié krediteure met skuld aan Eskom van bykans R300 miljoen. Die kragverskaffer het reeds herhaaldelik met stappe gedreig wat met ’n afbetalingsooreenkoms afgeweer is.

Tydens ’n onlangse voorlegging aan die nasionale raad van provinsies het dr. Modjadji Malahlele van die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) gesê die munisipaliteit is tegnies bankrot en dra ’n hoë skuldlas van sowat R350 miljoen.

“Hoewel die geldelike inspuiting nie onmiddellik al die munisipaliteit se probleme sal oplos nie, sal dit help om die druk van die krediteure af te verlig en ons toelaat om dienslewering te bespoedig terwyl ons die finansiële herstelproses implementeer.

“Ek het nog altyd geglo met finansiële hulp en die regte beheermaatreëls, sal Modimolle-Mookgophong ’n volhoubare en florerende munisipaliteit kan wees,” het Van Staden gesê.

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top