Akademiese afrondingskamp ’n groot sukses

Die groep gr. 7-leerders wat die akademiese afrondingskamp bygewoon het.

’n Groep van 68 opgewonde gr. 7-leerders het op Vrydag 19 Oktober ’n akademiese afrondingskamp by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong deurloop voordat hul eindeksamen in November begin.

Die leerders verteenwoordig nege laerskole in die omgewing en naburige dorpe en een leerder was selfs van Pretoria.

Die leersame en waardevolle kamp is deur die skool, in samewerking met Solidariteit se skoleondersteuningstelsel (SOS), aangebied. Gerda Swanepoel, akademiese hoof van Hoërskool Hans Strijdom, was aan die stuur en het aan Die Pos gesê dit was ’n baie suksesvolle naweek.

Die meeste leerders het in Laetitia- of Sekelboskoshuis gebly en sodoende ook kennis gemaak met veral die pret en samesyn van die koshuislewe.

Die Vrydagmiddag het die senior leerlingraad vir 2019 ’n ysbreker en kenmekaar- aktiwiteit aangebied. Dr. Ilse de Beer, opvoedkundige sielkundige, het die aand ná ete ’n insiggewende lesing aangebied en praktiese wenke gegee om spanning in eksamentye, asook in die algemeen, te hanteer.

Die Saterdagoggend het akademie voorrang geniet. Geen moeite is ontsien om die leerders te ondersteun in wiskunde, natuurwetenskap en Afrikaans nie. Verwagte eksamenvrae en knelpunte is behartig.

Die wiskunde is deur Jana Olivier (departementshoof van Laerskool Lynnwood) aangebied, die natuurwetenskap deur Marita Louw van Hans Strijdom se natuurwetenskapdepartement en die Afrikaans deur Johanette Pretorius, ’n ervare onderwyser en vakhoof van Afrikaans by die skool.

Die leerders het twee of meer vraestelle met memoranda in elke vak ontvang om hulle verder te ondersteun vir die eindeksamen.

Die akademiese program is afgesluit met twee praktiese sessies. Hulle het “slym” in die chemie laboratorium berei en Debora van Zyl, onderwyser van die Hansies, het hulle bekend gestel aan die wonderwêreld van die lewenswetenskappe deur ’n beeshart, -longe en -niere te dissekteer.

Die Saterdagmiddag was vol waterjolyt en pret en die aand se sokkie was die ideale geleentheid vir die voornemende gr. 8’s om mekaar te leer dans en beter te leer ken.

Die Sondagoggend het ’n uitgeputte maar blinkoog groep kinders ’n moeë Rudolf de Vos, bemarker van Hoërskool Hans Strijdom, en Swanepoel gegroet met die versekering dat Hansieland hul harte gesteel het.

  AUTHOR
Marietjie Steenkamp
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top