Hoofartikel: Jy’s ’n legend!

Dié tyd van die jaar, wanneer skole hul jaarlikse prysuitdelings hou, is gewoonlik een van groot hartseer of groot vreugde in talle huise in Die Pos se lesersgebied.

Dit is ’n onderwerp waarmee ’n mens katvoet moet omgaan. Katvoet, inderdaad, want ’n mens sien baie keer hoe die spreekwoordelike naels uitkom wanneer skole hul leiers aankondig.

 

 

’n Mens is enersyds uitbundig bly vir dié wat gekies word, en andersyds hartgebroke vir diegene wat nié gekies word nie. Daar is nie ’n eenvoudige antwoord op dié tameletjie nie en skoolhoofde moet soms die wysheid van Salomo aan die dag lê om die houe van ouers af te weer.

Die laerskool waarin my kinders was, het tot my blydskap jare gelede al weggedoen met die ou prefekstelsel.

Almal in gr. 7 word “leiers” en volg deur die loop van die jaar leierskapkursusse.

Dit is ’n model wat deur al hoe meer laerskole gevolg word en deur talle opvoeders onderskryf word. En ek moet byvoeg: dit draai beslis baie onnodige spanning by laerskoolleerders nek-om.
Kort nadat dié stelsel ingestel is, praat ek en my gesin een aand op die vooraand van ’n nuwe skooljaar oor leierskap en hoe ’n goeie “senior” moet lyk.

“Ek wil graag ’n senior met ’n goeie hart wees. Iemand wat nie heeltyd baas is nie,” laat my seun van hom hoor. “Ek wil die kleintjies behandel soos wat Reneilwe my behandel het toe sý in gr. 7 en ék klein was — soos ’n mens. Reneilwe was ’n legend.”

En daar boul die kind my uit. Sjoe, ons het dié Reneilwe waarvan hy praat bykans drie jaar gelede laas gesien of iets van haar gehoor. Sy is aan die einde van haar laerskoolloopbaan na ’n meisieskool in die stad en ons het kontak met haar verloor.

Hoe lekker was dit nie om hierdie storie vir Reneilwe — met haar gróót hare en haar gróót glimlag — te kon vertel nie toe ek haar kort daarna in ’n braairestaurant in die dorp raakloop. En hoe dankbaar is ek oor leiers wat ander “soos ’n mens” behandel.

  AUTHOR
Keina Swart
Editor & Co-owner

Latest News

COMMENTS

Top