Misdadigers dopgehou tydens nasionale patrollie

Verskeie AfriForum-buurtwagte in Limpopo, waaronder die Tzaneen, Lephalale en Modimolle, Roodekuil-, Turfbult- en Langkuilbuurtwag (RTL), asook die Plaaslike veiligheidsreaksiespan (RSRT) van Bela-Bela, het op Vrydag 19 Oktober saam met die Matlabas-plaaswag in Lephalale aan ’n nasionale patrollie deelgeneem.

Die 237 patrollielede, wat gemeenskappolisiëringsforumlede (GPF) en veiligheidsondernemings ingesluit het, het in 110 voertuie altesaam 7 325 km tydens die patrollie afgelê, lui ’n verklaring van AfriForum.

Die polisie in die Groblersdal-, Thohoyandou- en Bela-Bela-omgewing het ook tydens hierdie naweek gefokus op plekke waar misdaad die meeste voor kom, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie het padblokkades gehou en mense en voertuie deursoek.

Die polisie in Limpopo het teen Maandag 22 Oktober reeds 890 verdagtes, tussen die ouderdomme van 22 en 51, in hegtenis geneem vir ’n verskeidenheid van misdade. Dit het onder meer die besit van gevaarlike wapens, gesteelde eiendom en dwelmbesit ingesluit, het Ngoepe gesê.

Lt. gen. Nneke Ledwaba, provinsiale kommissaris en genl.maj. Christine Moralakadi, hoof van die polisie se menslike hulpbronne-bestuur, was deel van die operasie in Thohoyandou waar 40 mense weens alkoholgebruik in die openbaar aangekeer is, 16 weens verkeersoortredings, 19 omdat hulle vermoedelik onwettige immigrante is, vyf weens dronkbestuur en sewe omdat hulle nie die nodige dranklisensies gehad het nie, het Ngoepe gesê.

Ngoepe het voorts gesê die polisieoptrede het tot gevolg dat 19 mense in Bela-Bela weens alkoholgebruik in die openbaar aangekeer is, agt omdat hulle vermoedelik onwettige immigrante is en sewe weens dronkbestuur en onwettige drankverkope. ’n Saak vir die besit van gevaarlike wapens is ook geopen.

Een sjebien se deure is ook deur die polisie gesluit, het Ngoepe gesê.

Die vermeende gesteelde eiendom wat regoor die provinsie teruggevind is, het 12 voertuie, 14 vuurwapens, 21 wapens, ses grootskermtelevisies, ses selfone, vier skootrekenaars, huishoudelike toestelle, klere, klankstelsels en gereedskap ingesluit. Die waarde van die gesteelde items word op R3 miljoen geraam, het Ngoepe gesê.

’n Totaal van 156 sakkies dwelms, wat heroïen, nyaope en kokaïen ingesluit het, is ook gedurende die naweek gevind, het Ngoepe gesê.

Al die mense wat in hegtenis geneem is, sal in hul onderskeie landdrosdistrikte se howe verskyn, het hy gesê.

AfriForum loods hierdie nasionale patrollies om sigbaarheid en samewerking te verbeter en die veiligheid in ons gemeenskappe te bevorder,” het Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo, gesê.

“Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid voorop te stel en nie op die regering alleen te vertrou nie.

“Raak by enige plaaslike veilig-heidsinstansie betrokke of sluit by ons aan om deel te word van die oplossing.”

Ledwaba het die polisie gekom-plimenteer vir hule harde werk en gesê dat hierdie operasies gemeenskappe veilig hou.

  AUTHOR
Die Pos-span / The Post team

Latest News

COMMENTS

Top