Aanklagte teruggetrek teen wer­ker en werk­ge­wer

Alle aanklagte teen die twee mans van Elandsfontein buite Bela-Bela wat in Julie onderskeidelik van poging tot moord en as onwettige immigrant aangekla is, is in die Bela-Bela-landdroshof teruggetrek.

Jacobus Johannes Pretorius (64) is van poging tot moord aangekla nadat Polite Shikona (33), sy werknemer, beweer het dat daar op Sondag 8 Julie op hom geskiet is.

Shikona is polisie toe om ’n klag te lê, maar is toe self in hegtenis geneem nadat die polisie vermoed het hy is onwettig in die land. Shikona is ’n Zimbabwiër van geboorte.

Lt. kol. Abel Phetla, speurtakhoof, het vroeër aan Die Pos gesê Shikona is in die maag gewond, maar by nadere ondersoek is gevind dat hy in die hand gewond is, het Phetla gesê.

Die hof het einde Julie borgtog van R1000 aan Pretorius toegestaan. Hy het ontken dat hy op Shikona geskiet het, maar aangevoer dat hy waarskuwingskote op die aand van die voorval afgevuur het.

Die aanklag teen Shikona is op Maandag 15 Oktober in die hof teruggetrek en hy is vrygelaat. Die redes hiervoor is nie in die klagstaat bekend gemaak nie.

Pretorius het weer op Donderdag 25 Oktober in die hof verskyn, waartydens die aanklag van poging tot moord ook teen hom teruggetrek is.

Kapt. George Lebese, ondersoekbeampte, het by navraag aan Die Pos gesê daar word gewag op die volledige ballistiese verslag van die vuurwapen wat na bewering die aand van die voorval gebruik is.

Eers daarna sal ’n finale besluit oor moontlike vervolging, al dan nie, geneem word.

  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top