Konsternasie toe voertuig deur skoolheining bars; leerders net-net mis

’n Motorryer het verlede week beheer verloor oor sy voertuig en deur ’n heining van die Eden Christen skool op die Thabazimbi-pad, buite Bela-Bela, gejaag. Die groot motor-band voor die voertuig op die foto, is waar ’n paar leerders aanvanklik gesit het.

Wat vir leerders van die Eden Christen-skool buite Bela-Bela as ’n gewone skooldag begin het, het die afgelope week in ’n nagmerrie-ondervinding ontaard.

Leerders van dié skool op die Thabazimbi-pad het hulle op Vrydag 26 Oktober boeglam geskrik toe ’n bestuurder beheer verloor het oor sy voertuig en deur die skool se heining gebars het.
Die voertuigbestuurder het glo probleme ondervind met die stuurwiel van sy Nissan Sentra, wat veroorsaak het dat hy nie binne die pad se draai kon bly nie, het Mignon van der Merwe, skoolhoof, aan Die Pos gesê.

Volgens haar het die ongeluk teen ongeveer 09:30 plaasgevind.

Die skool se matrikulante was besig met hul finale eksamen in bedryfsekonomie en was salig onbewus van die dreigende gevaar. Die jonger leerders was egter tydens pouse buite op die speelterrein, het Van der Merwe gesê.

“’n Paar leerders het binne die heining op ’n groot voertuigband gesit. Twee leerders het die voertuig op die teerpad en toe op die skouer van die pad sien aankom. Hulle het vinnig gereageer en die ander drie leerders uit die pad van die voertuig geruk,” het Van der Merwe gesê.

Die leerders was gelukkig reeds veilig toe die voertuig deur die heining gebars het. Van hulle het egter ligte stamp- en kneuswonde opgedoen in hul haas om te vlug voor die voertuig. Hoewel die beserings op die oog af gering gelyk het, is die leerders na ’n plaaslike hospitaal geneem vir waarneming en mediese sorg.

“Geen leerder het frakture of ernstige beserings opgedoen nie, maar die trauma en skok was groot. Daar het voorwaar engele by daardie heining wag gestaan,” het Van der Merwe gesê.

Van der Merwe het gesê die bejaarde bestuurder van Noordwes was baie geskok ná die ongeluk, maar is nie ernstig beseer nie. Hy het dadelik sy rybewys aan haar getoon en gesê dat sy motor die vorige dag gediens is, en die stuurmeganisme onverklaarbaar losgekom het terwyl hy om die draai by die skool gery het.

Die skool het ná die voorval besluit om die leerders se speelterrein verder weg van die heining te verskuif. Die heining sal eersdaags herstel word, het Van der Merwe gesê.

Die Bela-Bela-polisie het by navraag gesê geen klag is ná die ongeluk gelê nie en die saak word dus nie ondersoek nie.

  • Eden Christen skool het vanjaar vir die eerste keer sedert hul ontstaan gr. 12-leerders wat die nasionale eksamens aflê.
  AUTHOR
Andries van der Heyde
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top