Moedelose inwoners tap nou liters vol water uit Modimolle-begraafplaas

’n Man tap ’n emmer vol water in die begraafplaas in Modimolle. Inwoners wend hulle na krane op openbare plekke om water te kry nadat dele van die dorp al weke lank sonder water is.

Sekere uitbreidings in Phagameng word veral hard getref en is al weke lank sonder lopende water terwyl ander woonbuurte se watertoevoer op ongereelde tye onderbreek word.

’n Optog is gereël vir Dinsdag 6 November vanaf die skouhuise in Phagameng tot by die munisipaliteit. ’n Groot gemeenskaps-byeenkoms het ook op Dinsdag 30 Oktober by die Ephraim Mogale-stadion in Phagameng plaasgevind. Inwoners het hul tot sosiale media gewend waar hulle dreigende boodskappe op politici se bladsye gelaat het.

 

Op pad terug huis toe. Dié mans het emmers water by die Modimolle-begraafplaas volgemaak, waar inwoners tou staan vir water.

 

Die watertekorte word glo veroorsaak omdat die Donkerpoortdam se watervlakke te laag is om water te pomp. Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, lewer Magalies Water daagliks slegs 4 megaliter pleks van die ooreengekome 5,3 megaliter. Die Donkerpoortdam lewer gewoonlik 40% van die dorp se water.

Daar blyk geen vinnige oplossings vir dié ernstige probleem te wees nie behalwe deurdringende reën wat die dam vul.

Desperate inwoners van Phagameng wend hulle nou na waterkrane in openbare plekke om water te kry. By die munisipale begraafplaas staan die voertuie tou om houers te vul. Van die inwoners het aan Die Pos gesê dat hulle kilometers ver met hul kruiwaens loop om water te kry. Van hulle is glo al meer as vyf weke sonder water.

Hoewel die munisipaliteit verskeie watertrokke rondstuur, is daar dele wat volgens die inwoners glad nie deur die trokke besoek word nie.

“Ons moet water hê om te drink en om mee te was. Ons het geen ander keuse as om hier water te kom haal nie,” het een van die mans gesê.

Nog ’n inwoner vertel dat sy R200 betaal vir iemand met ’n voertuig sodat sy water huis toe kan aanry terwyl ’n ontoegeruste munisipale boorgat net meer as ’n 100 m van haar huis af is.
Dié boorgat is een van twee boorgate wat in Mei vanjaar deur die onderneming Nylstene in Uitbreiding 13 in Phagameng gesink is om die waternood te verlig.

“Dis frustrerend dat ons so baie geld bestee het om die munisipaliteit te help, maar maande later staan die gate nog ongebruik,” het Michiel Laubscher, finansiële direkteur van die onderneming, gesê.

Die ooreenkoms was na verneem word dat Nylstene die boorgate sal boor en toerus en die munisipaliteit sal ’n kragkabel van 200 m aanlê. Dié sterk boorgate is volgens Laubscher getoets en het getoon dat dit 15 000 tot 20 000 liter water per uur kan lewer. “Dink net watter verskil dit aan dié krisis kon maak,” het hy gesê.

Daniel Pele, raadslid vir dié wyk, beaam dat die mense swaarkry.

“Ek het al herhaaldelik vir amptenare by die munisipaliteit gevra om die elektriese kabel van 186 m te kom lê sodat die gate toegerus kan word. Dit val op dowe ore. Dit is asof iemand daar nie wil hê dat die inwoners water moet kry nie,” het hy gesê.

Nog inwoners is die josie in vir die munisipaliteit en blameer die krisis op swak beplanning.

“Dit is elke jaar se storie dat die dorp meer water nodig het as wat voorsien kan word. Hoekom kon die munisipaliteit nie proaktief optree en waterbeperkings vroeg-tydig instel nie?” wou ’n inwoner weet.

Raadslede maan inwoners weke lank al om water te bespaar, maar tog word tuine nog natgespuit. Die Donkerpoortdam was vier jaar gelede laas vol.

DA-raadslid Johann Abrie het op ’n diensleweringsgroep geskryf dat Magalies Water slegs die hoeveelheid water wat aan die dorp verskaf word, sal vermeerder wanneer die miljoene rande wat die munisi-paliteit hulle verskuldig is, betaal word.

“Daar is nou ’n moontlike betaling van ongeveer R5 miljoen ter sprake as deel van die R70 miljoen reddingsboei wat die provinsie aan die munisipaliteit toegestaan het. Dit is egter nog nie betaal nie, maar van die DA se senior leiers was vandag in die dorp om te verneem hoe hulle kan help om die proses te bespoedig,” het hy op Maandag 29 Oktober in ’n boodskap geskryf.

Van Staden sê egter dat die agterstallige skuld nie die rede is waarom Modimolle minder water van Magalies af ontvang nie.

“Hulle mag slegs ons water verminder indien hulle die toestemming van die minister van water en sanitasie ontvang het. Geen sodanige toestemming is toegestaan nie.”

Abrie het in sy skrywe gesê dat Magalies Water slegs meer as die ooreengekome hoeveelheid water sal kan lewer wanneer die pompstasie naby die Sondela-vakansieoord in werking is.

Die Pos het reeds in November 2015 berig dat Magalies Water gesê het dat hulle besig is met dié pompstasie om die watertoevoer na Bela-Bela en Modimolle te verhoog. Die projek is steeds nie afgehandel nie.

Magalies Water stuur water per pyplyn vanaf sy Klipdrif-aanleg, wat water vanaf die Roodeplaatdam verkry na Bela-Bela en Modimolle. Die Roodeplaatdam is volgens Magalies Water 100% vol.

  AUTHOR
Ronel van Jaarsveld
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top