HOOFSTORIES: •   Ruk geldsake reg, sê ouditkomitee   •   Werkers staak steeds   •   Twee raadslede in Bela-Bela-hof   •   Inwoner aangerand terwyl ander toekyk   •   Twee vas ná weduwee besteel word   •   Jong vrou sterf skielik   •   Man sterf ná motor teen brug bots   •   DA rig vrae rondom polisiestasies   •   Troeteldiere getraumatiseer deur fees-vuurwerke   •   Brief: Noem my gerus maar oom   •   Pre-holiday makeover for Bela-Bela   •   Geloftefeesvieringe gehou in die Waterberge   •   Food: Cook a Flemish stew   •   Wees versigtig vir slange   •   Goeie reën lei tot opheffing van brandverbod   •   Kranskopfees (vir eers) van die baan
 

 
 

 

Kommer neem toe oor plaasaanvalle


   29 September 2017   l   Keina Swart & Ronél van Jaarsveld    l   Views: 1580   l   2 months ago  

 

Die gang waar Cecil Petersen van Modimolle vermoedelik geskiet is.


Suid-Afrikaners is die afgelope week geruk deur ’n vlaag plaasaanvalle.

Limpopo is een van die provinsies wat die ergste geraak is. 

Cecil Peterson (83) is steeds in die hospitaal, meer as twee weke ná die aanval wat die lewe van sy vrou, Pattie, geëis het. 

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die aanval op Woensdag, 13 September, op hul plaas tussen Bela-Bela en Modimolle nie. 

Peterson het operasies ondergaan aan sy kakebeen om die skade wat deur ’n koeël aangerig is, te herstel. Volgens sy dogter, Tania du Plessis, herstel sy kakebeen goed. 

Peterson ly volgens haar egter aan posttraumatiese stres ná die gewelddadige aanval en onthou niks van die voorval nie. Hy onthou ook glo nie dat hy op ’n plaas gewoon het nie en praat glad nie oor sy vrou nie. Du Plessis sê dat dit volgens die dokter weke of maande kan duur vir hom om te herstel. Peterson sal berading ontvang sodra hy uit die hospitaal ontslaan word, het sy gesê. 

Die moord op dr. Werner Emslie (55) op sy plaas sowat 30 km buite Lephalale op Woensdag, 20 September, en die wrede aanval op sy vrou, dr. Mariëtte Emslie, het ook die soeklig op plaasaanvalle laat val.

Werner is die ouer broer van dr. Victor Emslie, algemene praktisyn op Bela-Bela. 

Volgens Bea Emslie, mede-eienaar van Die Pos, is die familie in rou gedompel oor die dood van haar swaer en die wrede aanval op haar skoonsuster. Victor en Bea se jongste dogter, Jeanne, trou dié naweek te midde van al die trauma en hartseer in die familie. Die twee broers was baie na aan mekaar en hulle en hul gesinne het gereeld oor-en-weer gekuier.

Volgens Bea was haar swaer die aand op die stoep besig met ’n vergadering met twee van sy plaaswerkers. Werner was ’n deeltydse beesboer en bedryfsgeneesheer by die Exarro-myn buite Lephalale. Sy vrou is ’n algemene praktisyn op die dorp. Daar het skielik drie vreemde mans na hulle aangestap gekom. Hulle het iets oor “geld” in Engels geskree en dadelik vir Werner geskiet. Die plaaswerkers het weggehardloop om te gaan hulp soek terwyl daar ook op hulle geskiet is. 

 Barbara (19), die egpaar se dogter, was die aand tuis van die universiteit waar sy ’n mediese student in haar eerstejaar is. Toe sy die skote hoor, het sy in ’n badkamer gaan wegkruip en ’n noodoproep gemaak om hulp te ontbied. Intussen het die booswigte vir Mariëtte gekry en haar onder meer met ’n mes gesteek terwyl hulle haar gedwing het om vir hulle te wys waar die kluis is. 

Barbara het ’n rukkie later uit die badkamer gekom omdat sy gedink het dat die aanvallers weg is, maar het haar in hulle vasgeloop. Hulle het haar ook na die kluis gedwing en aangesê om die kluis vir hulle oop te sluit. In dié proses het hulle vir Mariëtte in die onderlyf geskiet.

Toe verskeie mense op dié stadium op die noodradio’s begin navrae doen en hulp ontbied, het die booswigte vermoedelik paniekerig geraak en in Mariëtte se nuwe Hilux-dubbelkajuitbakkie gevlug. Die voertuig is later verlate langs die pad gevind. ’n Uiters getraumatiseerde Barbara het in dié tyd instruksies van haar dokterma uitgevoer om die bloeding te probeer stop en haar ma aan die lewe te hou. ’n Beloning van R25 000 is uitgereik vir inligting wat tot die inhegtenisname van die aanvallers kan lei.

Mariëtte word nog steeds in ’n ernstige toestand in ’n Pretoriase hospitaal behandel. Sy het lewerskade opgedoen en die koeël is steeds nie uit haar laerug verwyder nie. 

Die aanval op die Emslies was die vierde die afgelope twee maande wat lewens in Limpopo geëis het. Buiten die Emslies en die Petersons is Piet en Tilla van Zyl van Roedtan op Sondag, 20 Augustus, op hul plaas tydens ’n aanval vermoor. Herman Botha van Groblersdal is op Sondag, 6 Augustus, aan-geval en vermoor.

Die minister van polisie, Fikile Mbalula, het op Woensdag, 20 September, ná ’n gesprek met AgriSA oor die landelike veiligheidsplan, gesê boere moet hul werk sonder vrees kan doen. Mbalula het gesê hulle gaan saam met AgriSA ’n memorandum onderteken oor planne vir veiligheid op plase en landelike gebiede. 

Die polisie het ook die provinsiale veilig-heidsplan op Vrydag, 22 September, op Polo-kwane bekendgestel. Die dag is bygewoon deur die verskillende kring-veiligheidskoördi-neerders, Agri-Limpopo, die National African Farmers Union (NAFU) en die African Farmers Association (AFASA). Die span van die polisie sal onder die leierskap van adjunk-provinsiale kommissaris genl.maj. Jan Schee-pers wees. Die oogmerke van dié plan is om die verhouding tussen die polisie en die boer-derygemeenskap te verbeter, asook die ver-houding tussen boere en gemeenskappe te versterk. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       

 

NEEM ASSEBLIEF KENNIS:

Die Pos se kantore sluit op Vrydag, 15 Desember 2017 en heropen weer op Maandag, 8 Januarie 2018.

GESEËNDE KERSFEES EN VOORSPOED VIR 2018 WORD AL ONS LESERS TOEGEWENS.


Ander stories