HOOFSTORIES: •   Ruk geldsake reg, sê ouditkomitee   •   Werkers staak steeds   •   Twee raadslede in Bela-Bela-hof   •   Inwoner aangerand terwyl ander toekyk   •   Twee vas ná weduwee besteel word   •   Jong vrou sterf skielik   •   Man sterf ná motor teen brug bots   •   DA rig vrae rondom polisiestasies   •   Troeteldiere getraumatiseer deur fees-vuurwerke   •   Brief: Noem my gerus maar oom   •   Pre-holiday makeover for Bela-Bela   •   Geloftefeesvieringe gehou in die Waterberge   •   Food: Cook a Flemish stew   •   Wees versigtig vir slange   •   Goeie reën lei tot opheffing van brandverbod   •   Kranskopfees (vir eers) van die baan
 

 
 

 

Drie verdagtes oor plaasmoord in hof


   06 October 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 1285   l   2 months ago  

 

Drie verdagtes is verlede week in Hammanskraal in hegtenis geneem in verband met die moord op Pattie Peterson (73) en die aanval op haar man, Cecil (83), op die plaas TNT Trading tussen Modimolle en Bela-Bela. Foto’s: HGP


Drie verdagtes het op Maandag, 2 Oktober, vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof verskyn in verband met die moord op Pattie Peterson (73) en die aanval op haar man Cecil (83).

Dié voorval het op Woensdag, 13 September, ongeveer 08:30 in die egpaar se woning op die plaas TNT Trading tussen Modimolle en Bela-Bela plaasgevind. 

Vier verdagtes was glo by die aanval betrokke, waarvan twee klapmusse en handskoene gedra het, het lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê. Die vierde verdagte is nog nie aangekeer nie.

Die verdagtes het glo die huiswerker met ’n vuurwapen aangehou en haar gedwing om hulle na die eienaars se huis te neem, het Ngoepe gesê.

Die verdagtes het die Peterson-egpaar in hul kombuis oorval. Pattie is noodlottig in die maag gewond en Cecil is in die kakebeen geskiet en is steeds in die hospitaal, het Ngoepe gesê. 

Bykans twee weke nadat die voorval plaasgevind het, het polisielede tydens ’n gesamentlike operasie drie van die verdagtes in Kanana, Hammanskraal, in hegtenis geneem. Lede van die Heritage Protection Group (HPG) was by die ondersoek betrokke.

Die polisie het op ’n 9 mm pistool, ammunisie, ’n selfoon wat glo aan die egpaar behoort het, asook op R380 kontant beslag gelê.

Die drie verdagtes, Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana en Tshepo Tebula — onderskeidelik 22, 31 en 37 jaar oud — het op klagtes van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n onwettige vuurwapen in die hof verskyn. Mathebula het met ’n breë glimlag in die beskuldigingsbank gestaan en heeltyd rondgekyk.

Landdros Gerard Olivier het die saak na Vrydag, 13 Oktober, uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagtes se profiele sal intussen saamgestel word en hulle sal ook ’n borgtogaansoek by die volgende verskyning indien.

Hulle is steeds in aanhouding. 

Volgens die polisie moet ’n uitkenningsparade nog plaasvind.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       

 

NEEM ASSEBLIEF KENNIS:

Die Pos se kantore sluit op Vrydag, 15 Desember 2017 en heropen weer op Maandag, 8 Januarie 2018.

GESEËNDE KERSFEES EN VOORSPOED VIR 2018 WORD AL ONS LESERS TOEGEWENS.


Ander stories