HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Sóveel plaasaanvalle sedert Januarie


   03 November 2017   l   Die Pos-span/The Post team    l   Views: 335   l   19 days ago  

 


Swart Maandag is die afgelope week regoor die land, en tot in die buiteland, gehou.

Dié projek is aanvanklik begin nadat Joubert Conradie, ’n boer van die Klapmuts-omgewing buite Stellenbosch in die Wes-Kaap, vermoor is. Chris Loubser, ’n plaasbestuurder van Franschhoek, het ná die moord in ’n emosionele pleidooi gevra dat mense op Maandag, 30 Oktober, swart dra om respek te betoon aan boere wat die afgelope ruk in plaasaanvalle vermoor is.

Talle mense is geraak deur dié versoek. Hoewel die pleidooi aanvanklik om plaas-moorde gegaan het, het talle Suid-Afrikaners in aanloop tot Swart Maandag aangedui dat hulle ook hul afkeur wil wys van álle vorme van misdaad in die land deur swart te dra.

Hier is die rede waarom Die Pos die veldtog teen plaasmoorde ondersteun. 

Hieronder volg ’n verkorte weergawe van die ernstigste plaasaanvalle waaroor ons sedert Januarie 2017 berig het. Dit sluit slegs die aanvalle in ons lesersgebied (Bela-Bela, Modimolle, Mookgophong, Vaalwater en Settlers) in, en sluit al die “minder ernstige aanvalle”, asook aanvalle op dorpe, uit:

  • Theuns Duvenhage (55), ’n boer van Modimolle, word in Januarie deur drie boewe oorval terwyl hy in ’n mielieland werk. Hy word met ’n piksteel geslaan en vasgebind, waarna die drie mans kontant en gewere buit en op die vlug slaan. ’n Reusesoektog word van stapel gestuur maar die aanvallers kom weg.
     
  • John Ramalho (84), ’n bejaarde van Roodekuil buite Bela-Bela, word einde Januarie op sy hoewe deur rowers aangeval en aangerand. Die boewe slaan ook twee klein hondjies in sy huis dood. Dit is die tweede voorval binne ’n maand nadat Gerhard Louw, Ramalho se buurman, net ’n ruk tevore deur twee rowers in sy slaapkamer oorval is. Die rowers rig ’n vuurwapen op Louw, maar die wapen vuur gelukkig nie af nie, waarop die rowers hulself uit die voete maak. 
     
  • Daniel Killian Jacobs (62) word vroeg in Februarie by die Leeupoort-vakansiedorp buite Bela-Bela aangeval en vermoor. Volgens die polisie gewaar sy vrou, Emmerentia, die oggend om 03:00 die rowers buite die huis. Hulle slaan ’n venster met ’n baksteen oop, skiet vir Jacobs dood en plunder die huis terwyl sy vrou haarself in ’n badkamer toesluit. Leeupoort is ’n afgeleë landelike omgewing.
     
  • Die instandhoudingsbestuurder by Settlers Agricultural High School se vrou word in Februarie wreed verkrag toe haar man nie tuis is nie. Die inbrekers gee vir haar ’n boodskap wat lui dat haar man die omgewing dadelik moet verlaat. Johan Engelbrecht en sy vrou, Bonita, woon op die skoolterrein wat in ’n plaasgemeenskap geleë is. Die egpaar gee toestemming dat Die Pos hul name mag publiseer. 
     
  • Ryno Janse van Rensburg (39) word op Valentynsdag vanjaar dood op ’n hoewe in die Roodekuil-omgewing buite Bela-Bela aangetref. Hy is vermoedelik op die hoewe aangeval en volgens die polisie met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Sy bakkiesleutel, die huissleutel, kontant, ’n bankkaart en sy selfoon word vermis. 
     
  • ’n Boer van die Roedtan-omgewing word in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Polokwane opgeneem nadat rowers hom in die bors skiet. Sam Liversage (68) en sy vrou, Meisie, van die plaas Klipgat, word in Mei wakker van ’n geluid in die huis. Hy gaan stel ondersoek in en kom op drie aanvallers in sy huis af. Een van hulle wag hom in en skiet hom in die bors.
     
  • Martin Neal van Drooggekloof buite Bela-Bela word in Julie in sy huis by die Jackalberry Private Game Lodge aangeval, beroof en vasgebind. Vier gewapende mans is vermoedelik by die voorval betrokke. 
     
  • Die boeregemeenskap en Bosvelders is met afgryse vervul ná die gru-moord op Piet (68) en Tilla (66)  van Zyl van die plaas Kalkpoort in die Immerpan-omgewing naby Roedtan. Die egpaar word na verneem word geskiet en wreed gemartel. 
     
  • Pattie Petersen (73) van Bela-Bela word in September tydens ’n plaasaanval by TNT Trading op die pad tussen Bela-Bela en Modimolle doodgeskiet en haar man, Cecil (83) in die kakebeen gewond. Cecil sterf sowat ses weke ná die aanval terwyl hy steeds in die hospitaal verpleeg word.
     
  • Die Pos berig in Oktober op ons voorblad oor twee vroue van Modimolle se noue ontkoming toe twee mans ongenooid by ’n plaas op die Jasper-pad opdaag en geld eis. Christine Vermaak (79) en haar huishulp, Fransina Makai, is alleen tuis. Makai word oorval en vasgebind. Vermaak kon daarin slaag om hulp te ontbied en die mans vlug terwyl talle lede van die gemeenskap na die plaas opruk en paaie afsper.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories