HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

‘Fluitjieblasers’ sê hulle word gedreig


   03 November 2017   l   Die Pos-span/The Post team    l   Views: 1308   l   19 days ago  

 

’n Klein groep EFF-lede het reg in ’n goedontwikkelde woonbuurt op Bela-Bela strukture begin opslaan om plakkershutte op te rig.


Die Pos het duidelik ’n blik wurms oopgekrap toe ons drie weke gelede vir die eerste keer berig het oor ’n klein groep EFF-lede wat reg in ’n goedontwikkelde woonbuurt op Bela-Bela strukture begin opslaan het om plakkershutte op te rig.

Bewerings is kort daarna tydens ’n vergadering met sakelui en inwoners op die dorp gemaak dat dié beoogde plakkery net ’n rookskerm was vir miljoene rande se be-drog wat sekere van die dorp se eiendoms-transaksies betref.

’n Persoon, wat verkies om anoniem te bly, het in ’n gesprek met Die Pos beweer dat ’n baie prominente sakeman eers een groep mense van die omgewing R500 000 aangebied het om daar te plak. Toe hulle nie gou genoeg na sy pype wou dans nie, het hy glo dié aanbod aan die EFF gemaak, wat dit volgens hom wél aanvaar het. Die persoon sê hy was teenwoordig toe die eerste aanbod gemaak is. 

Die Pos is ook in besit van ’n stemopname waarin die eerste fluitjieblaser dié bewerings aan iemand anders rapporteer.

Verskeie fluitjieblasers in dié sage het reeds aan Die Pos gesê dat hulle sedertdien vrees vir hul lewens en dreigemente ontvang het.

Die Pos het die sakeman wat van die beweerde omkopery beskuldig word met die bewerings gekonfronteer. Hy het dit ontken en gesê al rede waaraan hy kan dink dat iemand só ’n valsheid oor hom sal versprei, is jaloesie. Op die vraag of hy bereid sou wees om ’n leuenverklikkertoets daaroor af te lê, het hy geantwoord: “Ja”.

Dié sakeman het egter aan Die Pos gesê (en ook agterna in korrespondensie beweer) dat hy baie kennis dra van grondtransaksies op die dorp en dat hy binnekennis het dat daar verskeie ánder sakemense, amptenare en politici op Bela-Bela is wie se hande nie so skoon is as wat hulle voorgee nie. Hy het skriftelik name aan Die Pos verskaf van mense wat hy meen “ondersoek behoort te word”. 

Sello Moswoeu, EFF-koukusleier en raadslid op Bela-Bela, het intussen aan Die Pos gesê hý het die grondgryp-episode gereël nadat hy ’n mandaat van die EFF op nasionale vlak daarvoor ontvang het. “Grondbesetting sonder vergoeding is deel van die EFF se beleid,” het hy in ’n onderhoud met Die Pos gesê.

Hy het egter ontken dat hy omgekoop is om dit te doen.

Girly Malatjie, die EFF se tesourier en woordvoerder in die Waterberg, het egter ’n beroering veroorsaak toe sy in ’n onderhoud met Die Pos/The Beat gesê het dié grondryp-episode was glád nie deel van enige opdrag van bo aan Moswoeu nie en dat hy nie toestemming daarvoor gehad het nie.

Malatjie het gesê sy woon op Bela-Bela en moes die eerste persoon in die organisasie gewees het wat van so ’n grondgryp-poging kennis sou dra.

“Ek het eers daarvan gehoor toe mense my telefonies daaroor ingelig het terwyl ek in Venda was. Ek weet van die behuisingsprobleme in Uitbreiding 9, maar van planne om dié spesifieke stuk grond te beset, dra die EFF op streeksvlak geen kennis nie.

Die DA — die amptelike opposisieparty op Bela-Bela — se Desiéee van der Walt, het aan Die Pos gesê dat hulle die bewerings van korrupsie en bedrog op Bela-Bela in so ’n ernstige lig sien dat hulle verlede Dinsdag, 24 Oktober, indringende vrae daaroor by die parlement in Kaapstad ingedien het.

Intussen het die DA se Kobus van der Merwe, raadslid op Bela-Bela, ook aan Die Pos bevestig dat die DA se regsafdeling die moontlikheid ondersoek dat Moswoeu by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aangekla word. Dit volg nadat lede van die publiek navraag gedoen het daaroor omdat hulle sekere bewerings wat hy op sosiale media en tydens vergaderings op die dorp gemaak het, as opruiend en rassisties beskou, en ook omdat hy volgens hulle rassespanning op die dorp aanblaas.

  • Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het intussen gesê daar hang ’n wolk van verdenking oor die LUR Makoma Makhurupetje, wat tydens die onlangse kabinetskommeling in die wetgewer van die departement vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) na die departement van vervoer en veiligheid verskuif is. Volgens die DA word sy by korrupte grondtransaksies van miljoene rande in Limpopo verdink. In een van dié transaksies is R132 miljoen glo betaal vir ’n stuk grond wat kwalik R4 miljoen werd is. Jossey Buthane, EFF-lid van die wetgewer, het reeds verlede week ’n klag by die polisie oor dié saak ingedien. Smalle het gesê CoGHSTA is “deurtrek van korrupsie”.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories