HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Stropers gee leeus gif, boer ly groot skade


   10 November 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 913   l   11 days ago  

 

Een van drie leeus wat onlangs in die Donkerpoort-omgewing buite Modimolle vergiftig is. 


Wildstropers het op Dinsdag, 31 Oktober, die dood van drie leeus in die Donkerpoort-omgewing veroorsaak nadat hulle vleis met gif in oor die heining gegooi het. 

Twee van die leeus, ’n mannetjie en wyfie, se karkasse is die oggend deur hul eienaar, Japie Badenhorst, gevind. Die derde leeu, ook ’n wyfie, is eers later dood. 

Die leeus se koppe en pote is nie soos wat gewoonlik gebeur, gestroop nie. Badenhorst vermoed dit is omdat die stropers nie in die kamp kon ingaan nie omdat die een leeuwyfie steeds geleef het. 

Daar word vermoed dat vier mans by die poging betrokke was. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar volgens die polisie word leidrade opgevolg. 

“Ek gee die leeus juis laatmiddag kos om te probeer verhoed dat hulle aas eet wat oor die heining gegooi word. Ek dink dit is deels die rede waarom die een wyfie nie dadelik dood is nie — sy was nie honger nie,” het hy gesê. Badenhorst sê hy is radeloos. “Wagte om die leeus op te pas kos R17 000 per maand. Min boere kan dít bekostig. Ons het die kampe laatmiddag én soggens besoek om die leeus dop te hou, maar dit het nie gehelp nie.”

Dit is vir hom groot skade. Hy het R120 000 vir die mannetjie betaal en R60 000 elk vir die leeuwyfies. Een van die wyfies was dragtig. Die koste om kampe op te rig en die impakstudies te laat doen, was ook meer as R100 000. Hy raai ander boere aan om hul veiligheid op te skerp. 

Die Pos het betroubaar verneem dat daar reeds die afgelope jaar 20 leeus in die omgewing gestroop is. Die stropers verkoop die koppe en pote vir moetie, maar daar is ook ’n groot aanvraag uit die buiteland. Volgens die webwerf van die Suid-Afrikaanse Roofdiervereniging (SAPA), is daar ’n groot aanvraag in China vir bene van Afrika-leeus waarvan onder meer “tiger bone strengthening wine” gemaak word. Tierbene raak al moeiliker om in die hande te kry en word glo met dié van leeus vervang.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories