HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

Twee vas ná weduwee besteel word


   08 December 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 1684   l   5 months ago  

 


Die De Wit-familie van Bela-Bela is die afgelope vier maande deur ’n uiters slegte tyd.

Eers is Adolf de Wit, oudbankbestuurder aan kanker oorlede. 

Sy dogter, Melanie, was ’n paar weke gelede die slagoffer van bankkaartbedrog en in die jongste voorval is sy weduwee, Patsy, besteel.

’n Man en ’n vrou het Patsy op Donderdag, 30 November, by haar huis, wat in die mark is, besoek.

Sy het aan Die Pos gesê dat sy baie veilig-heidsbewus is, maar sy het die man en vrou ingenooi toe hulle vriendelik voorgegee het dat hulle in haar huis belanggestel het. 

Patsy het gesê sy het hulle van kamer na kamer geneem en hulle die buite-area gewys. 

Dit is toe dat die vrou se selfoon gelui het.

“Terwyl ek en die man nog gepraat het, het ek agtergekom die vrou verdwyn nadat haar selfoon gelui het. 

“Ek is dadelik terug in die huis en het gesien dat die vrou in die gang vanaf die hoofslaapkamer gekom het, steeds besig om oor die foon te praat.”

Patsy het gesê sy het ongemaklik gevoel, maar het niks verdags vermoed nie. Die man en vrou het die huis verlaat, in ’n Volkswagen Golf geklim en weggery.

Om haarself gerus te stel, het Patsy terug na haar kamer gestap en gevind dat haar trouring, ander ringe met sentimentele waarde, asook haar oorlede man se trouring, gesteel is.

’n Noodroep is dadelik uitgestuur om op die uitkyk te wees vir die man en vrou se voertuig.

Volgens ’n verklaring van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) sektor 1, het ’n lid die voertuig in die rigting van Modimolle gesien ry en dit agtervolg, waarna die Modimolle-polisie daarvan in kennis gestel is.

Die polisie het die voertuig voorgelê en die twee verdagtes in hegtenis geneem.

Al Patsy se ringe is in hul besit gevind, asook ’n paar ander items wat hulle glo ook uit haar huis gesteel het.

Die verdagtes het op Maandag, 4 Desember, hul eerste verskyning in die Bela-Bela-landdroshof gemaak.

Hulle is steeds in aanhouding.

Patsy wil veral die reaksielede, Galvin sekuriteit, asook die Modimolle- en Bela-Bela-polisie bedank vir hul spoedige optrede.

“Ek is ontsettend bly ek het niks oorgekom nie en is nog blyer dat ek alles weer teruggekry het,” het sy gesê.

Die GPF waarsku inwoners om onder geen omstandighede vreemde mense in hul huise toe te laat nie. “Al kom sulke mense netjies voor en klink hulle goedgemanierd, kan hulle ’n bedreiging inhou,” het die verklaring gelui.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories