HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

Mookgophong-polisie keer misdadigers aan


   02 February 2018   l   Marietjie Steenkamp    l   Views: 133   l   3 months ago  

 

Die polisie op Mookgophong het in Januarie verskeie mense in hegtenis geneem. Op die foto is AO George Ledwaba, woordvoerder van die polisie op Mookgophong.

 


Die polisie op Mookgophong het groot welslae in Januarie behaal toe ’n paar vermeende misdadigers aangekeer en een gevonnis is. 

Volgens AO George Ledwaba, woordvoerder van die polisie op die dorp, is die 32-jarige Betheul Masalesa op Maandag 22 Januarie in Phomolong in hegtenis geneem in verband met verskeie huisbrake op plase in die Modimolle-omgewing. Hy was glo tydens sy inhegtenisname in besit van ’n platskermtelevisie en ’n hoëtroustel wat in die Modimolle-omgewing gebuit is. Die goedere het ’n geraamde waarde van R30 000. Die verdagte sal in die Modimolle-hof verskyn. 

’n Zimbabwiër (29) is op dieselfde dag aangekeer weens die onwettige besit van ’n 7.65-pistool, het Ledwaba gesê. Die oorsprong van die wapen is nog onbekend aangesien die reeksnommer op die wapen verwyder is. Ledwaba het gesê verdere ondersoek word ingestel om die eienaar van die wapen te identifiseer. Die verdagte sal binnekort in die hof op Mookgophong verskyn

In ’n ander geval is die 46-jarige Zanzu Masuku, ook ’n Zimbabwiër, op Donderdag 18 Januarie tot 20 jaar tronkstraf gevonnis weens huisbraak met verswarende omstandighede. Die vonnis spruit voort uit die inbraak op 10 September 2016 by Paradise Lodge net buite Mookgophong op die Roedtan-pad. 

Masuku is op dieselfde dag in die Polokwane-omgewing aangekeer. Drie ander beskuldigdes is ook gedurende die ondersoek in verband met die saak in hegtenis geneem, maar is onskuldig bevind en vrygelaat. Masuku moet vyf jaar vir huisbraak met die doel om te steel, uitdien en ’n verdere 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Volgens Ledwaba is ’n saak van strafbare manslag ook geopen nadat ’n Quantum-minibus op Maandag 22 Januarie in ’n botsing met ’n Nissan 1400-bakkie op die R101 betrokke was. “Die minibus het ’n U-draai gemaak en die bakkie, wat agter die minibus gery het, het in die minibus vasgery.” 

Die bestuurder van die bakkie het op die toneel gesterf en van die passasiers in die minibus is beseer. Die bestuurder van die minibus is op die toneel in hegtenis geneem, het Ledwaba gesê. Hy het op Dinsdag 23 Januarie in die hof op Mookgophong verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories