HOOFSTORIES: |
16 March 2018 l Marietjie Steenkamp | l Views: 561 l 39 days ago |
Een van die rowers wat besig is om “inkopies” te doen is hier op ’n veilig-heidskamera afgeneem. Die rowers het die kluis uitgebreek en daarna inkopiesakke vol produkte gemaak.
Rowers was op Sondag 11 Maart in Mookgophong bedrywig waar hulle in die vroeë oggendure by Spar in die hoofstraat ingebreek het. Volgens Kobus Briel, eienaar van die winkel, het hulle omstreeks 06:00 toe hulle die bakkery oopsluit, gesien daar is ingebreek. Briel het gesê drie rowers het teen ongeveer 03:00, gewapen met groot hamers en koevoete, deur die dak van sy kantoor toegang tot die gebou verkry. Die rowers het die drade van die alarm geknip wat veroorsaak het dat die alarm nie afgegaan het nie. Hulle het daarna die kluis (drop safe) losgebreek en dit met inhoud en al gebuit. “Die skade is nog onbekend, maar kan derduisende rande beloop,” het Briel gesê. Op die kringkameras kan duidelik gesien word hoe die drie boewe die kluis verwyder en toe lustig begin om hulself van die rakke af te help. Een het ’n groot inkopiesak gedra en telkens eers na die etikette gekyk voordat hy besluit het wat om in te pak. Die polisie se vingerafdrukeenheid was Sondag vroeg op die toneel en het verskeie vingerafdrukke gevind. Een van die booswigte het ’n gekleurde plastieksak gedeeltelik oor sy kop getrek. Briel het aan Die Pos gesê dat die rowers blykbaar glo dat die plastieksakke die infrarooilig van die kamera weerkaats en dus nie kan werk nie. Die teorie is egter verkeerd bewys aangesien een skurk se gesig baie duidelik afgeneem is. Die drie rowers het in ’n motor, wat agter Spar by ’n onderneming gewag het, gevlug. Niemand is teen druktyd in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort. “Ná hierdie voorval oorweeg ek dit sterk om die winkel te verkoop,” het Briel gesê. |
0 Comments