HOOFSTORIES: |
13 April 2018 l Ronél van Jaarsveld | l Views: 92 l 10 days ago |
Die twee mans wat vir Edwin Grobler en sy vrou, Petro, in Desember 2016 by die Settlers Hotel aangeval het, is drie jaar tronkstraf in die hof in Modimolle opgelê. Die egpaar was ten tyde van die aanval onderskeidelik 83 en 79 jaar oud. Die hof het gehoor dat Edwin glo só hard geslaan is dat sy gehoorstuk uitgeval het en hy nie meer kon hoor nie. Die mans het hom vasgebind en vir Petro gedwing om waardevolle items in die huis uit te wys. Simon Tito Nkuna en Ronald Lebogang Matsebe het daarna op die vlug geslaan met horlosies, beursies, ’n kasregister uit die hotel se bottelstoor, drank en ’n DVD-speler voordat die polisie hulle tien maande later vasgetrek het. Maatskaplike werkers het tydens die hofverrigtinge getuig oor die trauma wat die aanval vir die egpaar meegebring het. Edwin het hom glo aan mense onttrek en die egpaar het hul vertroue in mense verloor. Landdros Pieter Manthata het Nkuna en Matsebe ingevolge Artikel 276 (1) (i) drie jaar tronkstraf opgelê. Hulle moet minstens ’n sesde van dié vonnis uitdien. “Ek is nie regtig tevrede nie. Ek sukkel om te vergewe. My man is heeltemal ’n ander mens ná die aanval. As hulle uitkom, gaan hulle weer dieselfde doen,” het Petro aan Die Pos gesê. |
0 Comments