HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Tweede Kaboemfees lok talle besoekers


   08 September 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 159   l   2 months ago  

 

Bekende sanger, Steve Hofmeyr vermaak die skare tydens die Kaboemfees.


Die tweede Kaboemfees op Modimolle het talle besoekers van heinde en ver na die dorp gelok. 

Gastehuise was propvol en die dorp se gewoonlik stil strate was vol Gauteng-nommerplate.

Die hoogtepunt van die fees was die aand se vertoning deur groot Afrikaanse sangers soos Pieter Smith, Robbie Wessels, Juanita du Plessis en die groot trekpleister, Steve Hofmeyr. Ondanks ’n ysige koue Saterdagaand het aanhangers die stoele volgesit, toegewikkel in komberse, musse en serpe. 

Van die ander vermaak wat deur die loop van die Kaboemnaweek op Vrydag, 25 Augustus, en Saterdag, 26 Augustus, aangebied is, was die baardkompetisie, die Plaasmeisiekompetisie, Tiaan van Kokkedoor se kookdemonstrasies, ’n ossewa- en oudhede uitstalling, viertrekvoertuigkompetisie en talle ander sangers en vermaaklikheidskunstenaars. 

Janco Joubert het met die eerste plek in die juniorafdeling weggeloop tydens die ploegkompetisie. Derick, sy jonger broer, was tweede. In die seniorafdeling het Janco weer die voortou geneem en Brian en Richard Venema was ’n kortkop agter hom in die tweede en derde plekke. Janco was die algehele wenner van die kompetisie. 

Die wenners van die Plaasmeisiekompetisie was Femke Minnaar in die eerste plek, Aniska Krause in die tweede plek en Chianté Piontek derde. 

Die manne wat met hul viertrekvoertuigvernuf meegeding het, was in die eerste plek Johan Bekker wat 900 punte behaal het met sy Suzuki Jimny, in die tweede plek Richard Strauss wat 826 punte behaal het, ook met ’n Suzuki Jimny, en in die derde plek Johan Niemann wat 705 punte behaal het in sy Mazda BT50. 

Die motors met die groot enjins het teen mekaar kragte gemeet in die stof en Gerdehann Pienaar met ’n tyd van 09:48 in sy Toyota Landcruiser V6 het onder die ander uitgejaag. Johan Niemann was in die tweede plek in ’n tyd van 10:38 in sy Mazda BT50 en Lourens Prinsloo was derde in ’n tyd van 10:39 in sy Mitsubishi Pajero. 

“Ons begin reeds beplan aan die derde Kaboemfees. Diegene wat betrokke wil raak, moet ons asseblief solank kontak,” het Juanita Bester, organiseerder, gesê.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories