HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Ons kort ’n wonderwerk


   22 June 2017   l   Hoofartikel    l   Views: 59   l   5 months ago  

 


Suid-Afrikaners het die afgelope klompie jare die twyfelagtige etiket gekry dat ons ’n nasie is wat steen en been kla — oor alles: van rugby tot die prys van vleis tot die gehalte van televisieprogramme.

Ag, soms sommer bloot omdat die bome nie ewe lank is nie.

Die afgelope paar maande is dit egter asof daar ’n ekstra swaarmoedigheid op veral sakelui rus. Ook hier op die platteland sê al hoe meer sakemense dat hulle diep, diep bekommerd is oor die land se ekonomiese vooruitsigte.

Al die bedrywe trek swaar — van die eiendomsmark tot kettingwinkelgroepe en kleinhandelaars. Skole word op hul knieë gedwing omdat al hoe meer ouers nie meer skoolfonds betaal nie en skuldeisers blaas in die nek van mense met wie dit net anderdag nog voor die wind gegaan het. Die Pos word behoorlik oorval deur werkloses wat smeek of ons nie weet van werk nie — énige werk.

Op Bela-Bela het sakelui die afgelope week tydens ’n sakeontbyt koppe bymekaar gesit en mekaar moed ingepraat.

 “Ons moet ons eie opwinding kweek, want daar is min samewerking van die munisipaliteit of van die regering af. Ons sal ons eie ding moet doen, want niemand kom na hierdie dorp en omgewing om net televisie in hul vakansiehuise te kyk nie,” het een sakeman gesê.

Nog ’n sakeman het voorgestel dat daar eerstens op die “kleiner goed” gefokus word soos om strate skoon en die dorp netjies te hou.

Samewerking tussen inwoners en sakelui is duidelik nou die wagwoord.

Dit is baie duidelik dat Suid-Afrikaners vuisvoos en baie bekommerd is. Dié bekommernis kan lynreg voor die deur van pres. Jacob Zuma en sy “span” gelê word. Die huidige ANC-regering het net mooi niks gedoen om Suid-Afrikaners veilig in hul eie land te laat voel nie. 

“Net ’n wonderwerk kan Suid-Afrika nou nog red,” meen baie mense.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa se woorde die afgelope week: “Skuif op, vlieënier, dit is tyd dat die mede­vlieënier die stuurstang oorvat, menende dat hy nou gereed is om by Zuma oor te neem, klink soos musiek in baie Suid-Afrikaners se ore.

Soos ’n wonderwerk wat wag om te gebeur, as’t ware.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories